Central SA
Hofuitspraak ‘donker dag’ vir Khoisan─── 12:46 Thu, 01 Jun 2023
Die Grondwethof se besluit om die Wet op Tradisionele en Khoisan-leierskap ongrondwetlik en ongeldig te verklaar, is met ontevredenheid deur Khoisan-leiers begroet.
Die doel van die wet was om voorsiening te maak vir die erkenning van tradisionele en Khoisan-gemeenskappe en hul leiersposisies, en om plaaslike, provinsiale en 'n nasionale huis van tradisionele Khoisan-leiers te vestig.
Die hof het aangevoer dat die parlement misluk het om openbare deelname te fasiliteer en het die parlement 24 maande gee om die wetgewing te wysig “op 'n wyse wat met die Grondwet strook", of om 'n nuwe wet te aanvaar.
Die Khoisan-leier, prof. Stanley Peterson, het die hof se besluit as “verdoemend” beskryf omdat dit “alle pogings om erkenning deur die Khoisan en hul leiers ongedaan maak”.
“Dit is 'n teken dat die regering alles in sy vermoë gaan doen om die regte van tradisionele leiers en die mense van Khoisan-afkoms van 'n plekkie in die son te ontneem.”
Peterson sê dit is 'n “donker dag in die geskiedenis van Suid-Afrika se eerste bevolking”.
“Hulle word steeds van hul menswaardigheid ontneem, ondanks die bydrae wat hulle tot die demokrasie van die land lewer.”
Khoisan-leier Raymond Trollop van KwaZulu-Natal sê dit is tyd dat die regering internasionaal uitgedaag word om die erns van die regte van Khoisan-leiers en hul mense onder hul aandag te bring.
“Geen regering kan toegelaat word om so doelbewus mense se regte te misken nie,” sê hy.
