Central SA
Beurtkrag beïnvloed selfoonsein by Gariepdam─── HEIDRÈ MALGAS 17:46 Thu, 01 Jun 2023
Om 'n onderneming te bedryf het reeds sy uitdagings, maar nimmereindigende beurtkrag maak dit net soveel erger.
Dit het so erg geraak dat besighede op Gariepdam, waar die Vrystaat, Oos-Kaap en Noord-Kaap bymekaar kom, amper geen selfoonsein het nie, wat noodsaaklik is om te verseker dat hulle sake kan doen.
Louise du Plooy, finansiële bestuurder van De Stijl Gariep Hotel, sê hulle beurtkrag is meer as in byvoorbeeld Bloemfontein – dit is die laaste ruk twee uur, dan vier uur, dan weer 2 uur af; dus meer as agt uur per dag.
Sy vertel dat al die gaste en voornemende kliënte gebel word op WhatsApp-oproepe, maar die verbinding word pal onderbreek.
“Gaste sukkel om ons in die hande te kry en ons sukkel om met verskaffers te praat. Die meeste van die tyd werk ons deur e-pos,” sê Du Plooy.
Sy vertel die enigste oplossing wat hulle tot dusver gekry het, was om ’n antenna te laat oprig by die nuwe telefoonstelsel om die ontvangs te verbeter.
“Ons weet nie hoeveel van die gaste het moedeloos geword nie omrede hulle ons nie kon kry nie, en sodoende kon ons inkomste verloor het,” vertel sy.
Die probleem neem baie van die hotel se produktiewe tyd in beslag.
Sy sê die gaste en besighede wat konferensies wil hou in die hotel, raak moedeloos om hulle te probeer bel, dan moedig hulle die gaste aan om hulle per e-pos te nader.
“Nashua het nou met ons nuwe telefoonstelsel ’n antenna opgesit van Vodacom om die oproepe na die hotel se ontvangs te verbeter.”
Sy vertel dat hulle nog nooit oorweeg het om hulle besigheid te skuif nie omdat die Hotel uniek is in die opsig dat dit die mooiste uitsig oor die Gariepdam het en op ’n koppie geleë is.
“Die sonsondergange en -opkomste is iets om te aanskou. Ons is ook geleë tussen Johannesburg en die Kaap. So gaste kom halfpad oornag by ons. Die gaste kom altyd terug,” vertel sy.
Sy vertel dat die meeste besighede en mense in die omgewing met die sein sukkel en baie ondersteuning verloor.
