On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

‘Veediewe heg meer waarde aan buit as ’n mens se lewe’

───   07:52 Fri, 02 Jun 2023

‘Veediewe heg meer waarde aan buit as ’n mens se lewe’ | News Article

Genade- en gewetenlose veediewe se buit is vir hulle duidelik meer werd as ’n mens se lewe en sy naasbestaandes se seer, het die VF Plus se provinsiale leier in die Vrystaat ná ’n tweede plaasmoord die afgelope week gesê.

Jan van Niekerk het namens die party dié moord op ’n veewagter van Sasolburg ten sterkste veroordeel.

Die oorledene, Hlompo Patrick Phale, is Woensdag vermoor en 98 skape is glo in die proses gesteel.

“Hoeveel lewens moet verlore gaan voordat die ANC-regering besef dat plaasmoorde en -aanvalle nie ’n sogenaamde ‘wit’ probleem is nie, maar ’n probleem wat die ganse landbou-, en landelike gemeenskap van Suid-Afrika diep ruk en beïnvloed en voedselsekerheid bedreig?

“Wanneer ’n plaaswerker sterf, sterf bes moontlik ’n huisgesin se enigste broodwinner en wanneer ’n boer sterf, sterf ’n werkgewer van wie ander huisgesinne afhanklik is vir hul inkomste. Dit vererger die bose kringloop van werkloosheid en armoede wat hoogty vier in Suid-Afrika.

“Veediefstal in die Vrystaat is soos ’n oorlog wat deur wrede veediefbendes teen die landbougemeenskap in die provinsie gevoer word. Talle boere en werkers, soos Brendin Horner, moes al met hul lewe in hierdie sinnelose stryd boet.

“Die polisie in die Vrystaat behoort ’n spesiale taakmag en aksieplan teen veediefstal in die lewe te roep wat deur plaaslike veiligheidstrukture ondersteun word.

“Die VF Plus druk jare reeds dat plaasmoorde en -aanvalle as prioriteitsmisdaad geklassifiseer word omdat die impak daarvan so vernietigend is dat dit nie die teendeel kan regverdig nie.

“Daar bestaan wesenlike bewyse dat daar 'n afname in misdaad is waar gemeenskappe eienaarskap oor hul eie veiligheid neem.

“Die VF Plus moedig gemeenskappe aan om veiligheidsnetwerke te vestig en, waar moontlik veiligheidstelsels soos slimkamera-toestelle, wat pro-aktiewe misdaadbekamping bevorder, te installeer.

“Die polisie kan nie meer die landelike gemeenskappe van Suid-Afrika behoorlik beskerm en beveilig nie.  Hulle moet dit self doen,” het Van Niekerk gesê.

Mediaverklaring/OFM Nuus


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.