Central SA
‘Vinnige Fanie’ hardloop nou 100m in die Hemel─── 07:56 Fri, 02 Jun 2023
“Jou son en jou maan is die Here, Hy gaan nie onder nie en word nie dof nie. Die Here sal vir jou ’n ewige lig wees, jou dae van smart is verby.”
Met dié trooswoorde uit die Bybelteks Jesaja 60:20, word “Vinnige Fanie” Ferreira (64) op Vrydag 2 Junie in Bethlehem gegroet. Ferreira het die bynaam gekry toe hy as matrikulant in 1976 aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein die vinnigste 100m-atleet in die land was met ’n tyd van 10.2 sekondes.
Sy oudste dogter, Monique Buchholz (40), sê haar pa is verlede Vrydag in die Netcare Sunninghill-hospitaal in Sandton dood tydens ’n hartoperasie met hoë risiko’s. Sy laaste maand was baie swaar en sy hartmedikasie het geen verligting gebring nie. Hy het self gekies om eerder geopereer te word. Dié teksvers was een van Ferreira se gunstelinge en is onderstreep in sy Bybel, vertel Buchholz. Dit het veral in sy laaste weke ware betekenis gekry.
Haar pa het die afgelope vier jaar by haar in Vanderbijlpark gebly.
“Ek sal hom altyd as ’n legende onthou. Hy was ’n held en so ’n saggeaarde man. Hy was baie lief vir ons kinders. Hy het homself krom gewerk om vir sy kinders te voorsien. Familie was vir hom die belangrikste ding in die wêreld.”

Oupa Faan saam met sy kleinkinders, van links: Xander de Wet, Lynn de Wet, Rumé Buchholz, oupa Faan en Pierre Buchholz. FOTO: Verskaf
Sy sê hy het mense aangetrek soos ’n magneet. Hy het energie gehad. “My pa het altyd die ligter kant van die lewe gesien.”

Buchholz vertel haar pa het as 17-jarige skoolseun die 100m-wêreldrekord gehou. FOTO: Verskaf
Sy vertel haar pa was maar 17 jaar oud toe hy teen seniors gehardloop het. Hy was die senior-kampioen in die 100m en 200m naellope in Suid-Afrika. Boonop het hy dit as ’n o.17, o.18, o.19 en o.21 vermag. Sy vertel haar pa het as ’n 17-jarige skoolseun die wêreldrekord in die 100m gehou. “Maar dit was in die apartheidsera en weens die sanksies teen ons land is die rekord nie in die res van die wêreld erken nie.” Buchholz sê haar pa was nooit bitter daaroor nie. Hy het geweet hy het dit vermag en dit was goed genoeg vir hom en hy was tevrede.
Buchholz sê hy is in 1980 met haar ma, René Heunis, getroud. Hulle het twee dogters gehad en is in 1987 geskei. In 1990 het hy met Gloria Uebel getrou. Hulle het ook twee dogters gehad. Benewens die vier dogters word hy ook deur sewe kleinkinders oorleef. Sy begrafnis vind vandag om 11:00 uit die NG-kerk, Bethlehem-Eureka, plaas. Ds. Richie Kemp lei die diens.
