On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Gerben
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with Shandor, Margaret and John
Listen Live Streams

Central SA

Diamanthandelaar lê snoeiskêr in onder personeel

───   13:05 Sat, 03 Jun 2023

Diamanthandelaar lê snoeiskêr in onder personeel | News Article
Louis Liebenberg FOTO: SABC

’n Omstrede diamanthandelaar het teëspoed gekry nadat hy kantoorpersoneel by sy onderneming afgedank het.

Louis Liebenberg was Dinsdag en Woensdag by sy kantoor in Springbok. Hy het toe met diamantdelwers vergader oor ’n paar aangeleenthede en was gemoedelik. Donderdag het hy teruggekeer na Gauteng.


Louis Liebenberg tydens ’n toespraak in Port Nolloth.

Vrydag 2 Junie het hy egter gesê hy dank 18 werkers by sy kantoor in Kemptonpark, Gauteng, af. Hy het ook die res se salarisse met 25% gesny omdat hulle glo oorbetaal was. Geen afleggings is by die Springbokkantoor gedoen nie.

“Die huidige ekonomiese klimaat laat dit nie toe nie dat ek met passasiers aangaan nie. As jy net werk vir ’n salaris, is daar nie plek vir jou in my organisasie nie. Ons het entrepreneurs en bouers van ons ekonomie dringend nodig,” het hy gesê.

Volgens Liebenberg volg hy ook geen protokol en dissiplinêre stappe nie. Hy het dus eenvoudig net die mat onder die afgedankte werknemers uitgepluk sodat hulle self val.

Veronica Pierce is ’n verontnugterde belegger by Liebenberg se Tariomix-beleggingsmaatskappy. Sy het geld verloor al is dit “nie so baie soos die ander nie”, volgens haar.

Sy het hierna besluit om Liebenberg tot ’n val te bring. En sy noem dat die afgedanktes nou kans het om teen Liebenberg te draai en alles te vertel wat hulle weet.

Oor die afdankings het sy gesê: “Die agttien personeellede wat afgedank is, kan met ons kontak maak sodat ons seker maak geregtigheid geskied ook vir hulle. Hul identiteite sal ten alle koste beskerm word. Ons verteenwoordig slagoffers van die verwoesting wat Liebenberg gesaai het.”

Stefanie Minnaar het gesê dat sy geen geld by Liebenberg belê het nie, maar die afgedanktes sal help. Hulle moet net met haar kontak maak.

“Ek het my eie HR/IR-onderneming en is bereid om die mense wat hy net laat gaan het, verniet by te staan. Hierdie man is verby stapelgek. Ek wens ek was 6 voet en 100kg sodat ek hom (Liebenberg) boonop kon [takel].”

Liebenberg het intussen gesê dat hy regslui uit Australië sal laat kom om die likwidasie van sy beleggingsmaatskappy Tariomix te keer.

Die likwidasie-saak kom weer in September voor.

OFM Nuus/Isaac Cloete

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.