Central SA
Jongman se skokdood ruk familie, vriende─── 10:14 Tue, 06 Jun 2023
Die huldeblyke stroom in ná die skokdood van die geliefde Donavan Claassen (27) van De Aar wat die naweek dood is. “Ek wonder of hy ooit geweet het hoe geliefd hy was,” sê Elmaré Albertyn, Claassen se aanstaande skoonma.
Claassen is Saterdag in die vroëe oggendure in Potchefstroom dood toe hy vermoedelik sy eie lewe op ’n botsingtoneel geneem het. Hy sou op 3 Julie 28 jaar oud geword het en aanstaande jaar op 3 Februarie sou hy met Albertyn se dogter, Maritha Albertyn (25), getrou het.
“Dit is vir ons ’n verskriklike seer. Donavan was ’n stil, besadigde man. Ons het so uitgesien na die troue,” sê Elmaré. Hy het altyd só baie vir ander gedoen. So min vir homself.
“My kind is stukkend. Sy ouers is stukkend. En ons harte is baie, baie seer.”
Sy sê Claassen wou net vir Maritha sorg en vir haar die beste gee.
Alles wat hy gedoen het, het hy met soveel passie en presiesheid gedoen. Niks was vir hom te veel moeite nie.
“Ons gaan hom so baie mis.”
Claassen was vir werk in Noordwes. Sy werkgewer, Eddies Electrical Services op De Aar, het in ’n verklaring hulde gebring. Mientjie Marais, die eienaar sê:
“Stil en onseker het hy in 2019 in ons lewe gekom. Hy laat ons met reuse leë harte. Hy was ’n briljante elektrisiën en installeerder van sonpanele. Donavan was ’n kalm en standvastige man in ons besigheid. Waar hy gegaan het, het hy kliënte, vreemdelinge en vriende gelaat met goeie herinneringe. Niks was ooit te veel vir hom nie. Die ander werkers het altyd gespot dat hy die kleinbaas is. Hy was nie net ’n kennis nie. Hy was soos ’n kind. Ons sal hom altyd in ons harte dra waar ons ook al mag gaan tot ons hom weer sien.”

Talle foto's van Claassen word deur sy geliefdes op sosiale media gedeel, met boodskappe van waardering en goeie herinneringe. FOTO: Facebook
Kapt. Sam Tselanyane, woordvoerder van die polisie in Noordwes, het luidens ’n verklaring gesê die polisie is Saterdag in die vroeë oggendure na die toneel van ’n botsing in Louwstraat in Potchefstroom ontbied.
“Toe die polisie op die toneel kom, het hulle ’n Ford Ranger-bakkie aangetref wat in ’n muur vasgery het.” Tselanyane sê terwyl die polisie nog op die toneel was om uit te vind wat gebeur het, het hulle ’n geweerskoot gehoor. Die polisie het Claassen met ’n kopwond aangetref. Hy is op die toneel dood verklaar. “Die polisie ondersoek die saak maar daar is geen verdagtes nie.”
Claassen was ook die eienaar van sy eie restaurant.
Benewens Maritha word Claassen ook oorleef deur sy ouers, Pietie en Cathy Claassen, en sy ouer suster Rochelle Halliday.
Die begrafnisreëlings kon nog nie gefinaliseer word nie. Claassen gaan wel in die Albertyn familiebegraafplaas ter ruste gelê word.
