Central SA
369 voorvalle van vandalisme in Mathjabeng aangemeld─── HEIDRÈ MALGAS 08:00 Wed, 07 Jun 2023
Die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit het die afgelope boekjaar sowat R35,5 miljoen skade gely weens kabeldiefstal en vandalisme.
Die VF Plus-raadslid vir Mathjabeng, Manie Pretorius, sê die party ontvang daagliks klagtes oor kragonderbrekings weens kabeldiefstal. Hierdie onderbrekings vind buite die geskeduleerde beurtkragtye plaas.
Daar is vasgestel dat vandalisme, diefstal, swak en vervalle infrastruktuur en ’n gebrek aan toerusting die rede vir die onderbrekings is.
“Langdurige kragonderbrekings veroorsaak wateronderbrekings aangesien die munisipaliteit se watersuiweringsaanlegte en pompstasies nie kan funksioneer nie.”
OFM Nuus het vroeër berig dat inwoners van Welkom vir dae al sonder water sit omdat ’n pomp in Balkfontein nie behoorlik werk nie.
LEES OOK: Water-shedding woes continue in Matjhabeng
Hy sê dat die munisipaliteit die situasie probeer beredder deur waterdruk te beperk om reservoirs se watervlakke te beskerm.
LEES OOK: Matjhabeng residents warned of continued water-shedding
OFM Nuus het ook berig dat Matjhabeng se burgemeester, Thanduxolo Khalipha, verduidelik het dat die infrastruktuur in Matjhabeng vernietig is deur zama-zamas en ander wat na hulself as sakelui verwys het. Dit is een van die situasies wat tot riooluitdagings gelei het.
LEES OOK: Matjhabeng beefs up security to prevent vandalism of infrastructure
“369 voorvalle van vandalisme en diefstal is reeds in die huidige boekjaar by die polisie aangemeld. Slegs 69 persone is in hegtenis geneem. Die munisipaliteit het bevestig dat werknemers van die munisipaliteit in die hof vervolg word weens betrokkenheid by van hierdie misdade,” sê Pretorius.
OFM Nuus
