Central SA
Verlate, pasgebore baba in plakkerskamp gevind─── 08:03 Thu, 08 Jun 2023
’n Pasgebore baba is onlangs in ’n plakkerskamp naby Olifantshoek gevind, volgens polisiewoordvoerder Sergio Kock.
Inwoners in die plakkerskamp het die babaseuntjie vroeg Woensdagoggend by ’n heining gevind waar hy gelê en huil het. Hy was in komberse toegevou. Die baba se ma het volgens inwoners die baba hier gelos en toe verdwyn.
Olifantshoek is in die Gamagara-munisipaliteit en lê ongeveer 60km vanaf Kuruman in die Noord-Kaap. Die dorp is ’n afdraaiplek vir motoriste op pad na Gauteng.
Die polisie het die baba laat ondersoek en na ’n plek van veilige bewaring geneem. Volgens Kock het hulle ook die publiek intussen versoek om hulp te verleen om die baba se ma op te spoor. Hulle ondersoek tans ’n saak van kinderverlating.
OFM Nuus/Isaac Cloete
