On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

‘Dit was net God se genade,’ vertel dapper boervrou

───   08:20 Thu, 08 Jun 2023

‘Dit was net God se genade,’ vertel dapper boervrou | News Article
Heibrie Kotzé saam met haar oudste dogter, Isobel. FOTO: Verskaf

“Die Here was regtig met my. Hy het my krag en wysheid gegee om op die regte tye die regte dinge te doen.”

Só vertel die dapper Heibrie Kotzé (51), ’n boervrou van die Schweizer-Reneke-distrik, wat Maandagoggend op haar en haar man se plaas, Turflaagte, aangeval is. Hulle plaas lê sowat 20km buite dié dorp. Tydens die aanval het Kotzé kop gehou en die aanvallers in haar plaashuis in ’n kamer toegesluit en gevlug.

Die aanval het Maandagoggend tussen 06:30 en 07:00 gebeur. Volgens Kotzé moes die aanvallers hulle dopgehou het en het hulle net gewag tot haar man, Tommie, gery het om plaaswerkers op die dorp te gaan haal. Hulle kinders is reeds uit die huis uit en hulle is nou alleen op die plaas. Die aanvallers het by die agterdeur ingekom, wat nie gesluit was nie.

Heibrie Kotzé en haar man Tommie. FOTO: Verskaf

Kotzé glo dis net met “genade van die Here” dat sy ten tye van die aanval die sleutel uit die binnekant van die deur kon trek, die deur kon toemaak en dit van die buitekant af kon sluit. Sy het na hulle bure toe gery, sowat 2km van daar, om hulp te kry. Sy is onder meer met ’n pyp geslaan en moes sowat 15 steke kry om haar wond te heg.

Kotzé sê dit gaan goed met haar. “Ek ly nie werklik aan skok nie. Dit voel wel onwerklik dat dit met ’n mens gebeur het.”

Sy glo die Here was teenwoordig. “Die een aanvaller het my teen die muur gedruk en gesê hy gaan my doodmaak.” Sy het in daardie stadium hardop gebid en hy het haar gelos. “Die Here het my krag en wysheid gegee om nie dwaas op te tree nie.”

Hoewel sy baie dankbaar is sy het oorleef, is sy baie teleurgesteld dat mense so kan optree.

“Maar ons gaan beslis aan met die boedery. Ons gaan net ons veiligheid opskerp.”

Haar twee getroue honde, Rolo en Buks, was deurlopend by haar en het geblaf om haar te beskerm. “Hulle kry nou ekstra liefde en bederfies. Hulle los my nie vir ’n sekonde uit nie. Ek dink hulle beskerm my steeds in die omstandighede.”

Kotzé sê hulle is dankbaar vir al die bystand en ondersteuning. “Die hele gemeenskap staan by ons. Hulle het so vinnig opgetree. Hier was ongeveer 60 voertuie en meer as ’n honderd mense. Ook twee vliegtuie en ’n hommeltuig het gehelp om die verdagtes te soek.”

Een van die aanvallers is binne ‘n uur vasgetrek. Hy is ’n Malawiese burger wat tydelik vir hulle gewerk het. Die ander verdagte is nog nie aangekeer nie.

OFM Nuus/Karen van der Berg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.