Central SA
’Glo in jouself, jy is genoeg’ – Mej. SA-finalis van Noordwes─── TSHEHLA KOTELI 09:55 Thu, 08 Jun 2023
"Jy is genoeg. Wees net jouself, glo in jouself, jy ken jou waarde. Laat niemand – jyself inkluis – dit bevraagteken nie."
Dít is die boodskap van Karla Pienaar (23), een van die top-30-finaliste in vanjaar se Mej. Suid-Afrika-kompetisie. Pienaar, ‘n onderwyser in lewenswetenskap en geografie by Hoërskool Hartbeespoort, is in die Vrystaat gebore en is een van drie skoonhede wat Noordwes in die kompetisie verteenwoordig.
Sy sê sy het haar nog altyd verbeel dat sy eendag sal wees waar sy vandag is. “Ek het van kleins af van hierdie oomblik gedroom.”
Sy sê sy is dankbaar vir die mense wat haar sedert die begin van haar reis ondersteun het, selfs mense wat sy nog nooit eens ontmoet het nie.

Karla Pienaar (23), een van die top-30-finaliste in vanjaar se Mej. Suid-Afrika-kompetisie. FOTO: Instagram
Die organiseerders van Mej. Suid-Afrika maak vanaand (8/6) die top 12-finaliste op die Mej. SA-app bekend.
“Ek is geïnspireer en bemoedig deur vroue wat voorheen op die Mej. SA-verhoog gepryk het. Die krag van vorige deelnemers, die stories wat hulle gedeel het, het my aangemoedig om uitdagings aan te pak wat ek gedink het ek nooit sou oorkom nie,” sê sy.
Sy doen al van laerskooldae af modelwerk en was ’n naaswenner in die Top Model Suid-Afrika-kompetisie. Volgens haar profiel op die Mej. SA-webwerf, streef sy daarna “om leiers te ontwikkel met 'n stralende innerlike skoonheid en geloofwaardigheid, en sy hoop om 'n diepgaande impak op ander te maak”.
As iemand met ? outentieke en betroubare stem, wil sy die wêreld ten goede vorm.
Sy sê sy voel ? groot uitdaging wat baie jong vroue in die gesig staar, is ? gebrek aan selfwaarde. “Baie vroue twyfel aan hul eiewaarde, of hulle goed genoeg is vir sekere dinge in die wêreld. Vir daardie vroue wil ek sê: ‘Jy is genoeg, jy is die baken van hoop, liefde en passie. Jy ken jou eiewaarde, moenie dat enigiemand – jyself inkluis – dit bevraagteken nie.”
Pienaar is een van drie deelnemers van Noordwes. Die ander twee is Barbara Moagi (22), ? digitale inhoudsvervaardiger en digitale bemarkingstudent van Mahikeng, en Keaoleboga Nkashe (27), ? opvoeder, student en model van Itsoseng.
