On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight OFM
Show Background
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

Sewejarige vol lewe ná rare geboortedefek

───   HEIDRÈ MALGAS 13:00 Thu, 08 Jun 2023

Sewejarige vol lewe ná rare geboortedefek | News Article
Op 18 April 2016, toe Leah-Marie ses maande oud was, is haar borsbeen herstel. FOTO: Verskaf

Leah-Marie van der Riet (7) van Welkom is sonder ’n borsbeen gebore. Vandag is sy ’n energieke meisie wat almal verkeerd bewys het.

Haar ma, Manda van der Riet, sê dit word ook ’n sternale spleet genoem. “Die defek is baie raar en dit is nie tydens die swangerskap op die sonars opgemerk nie,” sê sy.

Weens die gebrek aan ’n borsbeen was die boonste gedeelte van haar longe, slukderm en hart nie beskerm nie. Dit was slegs met weefsel en vel bedek en geen drukking kon op haar bors geplaas word nie.

Leah-Marie is sonder ’n borsbeen gebore. FOTO:Verskaf

“Ons het haar nie op haar maag laat slaap nie en sy het baie met refluks gesukkel. Met elke voeding het sy opgegooi en dan het ons haar regop laat slaap,” sê Van der Riet.

Op 18 April 2016, toe Leah-Marie ses maande oud was, is haar borsbeen herstel. Die defek was in die vorm van ’n "U". Aan die onderkant was daar ’n klein stukkie been geheg en daardie stukkie been het die dokter in die vorm van ‘n "V" gesny.

“Drie ribbes aan albei kante is los gesny om die borskas se bene meer buigbaar en beweeglik te maak. Die borskas is daarna in die middel vasgemaak. Dit was ‘n baie delikate proses omdat die dokter ook seker moes maak dat daar genoeg spasie is vir al haar organe binne die borskas en dat die asemhaling normaal is,” sê Van der Riet.

“As ouers was dit vir ons ‘n uitdaging, want ons moes haar vir ’n jaar ná die operasie baie versigtig hanteer. Daar was baie onsekerheid oor hoe sy sou ontwikkel en of sy as baba al die mylpale sou bereik.”

Leah-Marie word ook beskryf as vriendelik, liefdevol, hulpvaardig en energiek. FOTO: Verskaf

Sy sê hulle moes dagmoeders soek wat bereid sou wees om haar voor en ná die operasie te versorg.

“Leah-Marie se suksesvolle operasie het ons laat besef hoe groot die Here is en dat Hy altyd in beheer is. Ten spyte van al die uitdagings en onsekerhede het Hy ons deur die hele proses gedra en ons geleer om op Hom te vertrou.”

Vandag is sy ’n energieke meisie wat almal verkeerd bewys het. FOTO: Verskaf

Leah-Marie word beskryf as vriendelik, liefdevol, hulpvaardig en energiek.

OFM Nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.