On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Droër toestande kan vir binnelanders wag

───   14:05 Thu, 08 Jun 2023

Droër toestande kan vir binnelanders wag | News Article
Die intensiteit van El Niño stem dikwels nie ooreen met die intensiteit van ’n droogte nie. FOTO: Karen van den Berg

Met die ysige, nat winterweer wat binnelanders die afgelope ruk ervaar, is dit moeilik om te glo dat ’n droogte in die afsienbare toekoms moontlik is.

OFM Nuus het met die onafhanklike landbouweerkundige Johan van den Berg gesels en uitgevind die moontlikheid van ’n droër somer is baie waarskynlik.

Van den Berg verduidelik ook hoe ’n El Niño-weerstelsel ontstaan, wat die impak daarvan op landbou kan wees en hoe landbouprodusente daarvoor kan voorberei.

“Daar is tans ’n baie sterk aanduiding dat ’n El Niño-verskynsel gaan ontwikkel,” sê Van den Berg. Die vorige El Niño-gebeurtenis was die swakkerige El Niño van 2018/19. Die El Niño en La Niña kom elk in ongeveer 30% van jare voor met die res as neutraal. ’n Baie sterk El Niño kom egter so een tot twee keer per dekade voor. Om die impak beter te verstaan kan ’n mens kyk na El Niño-verskynsels wat ’n groot uitwerking op landbou gehad het. Dit was in 1982/83, 1991/92, 1997/98, 2009/10 en dan die baie sterk verskynsel van 2015/16.

“Wat wel interessant is, is dat die intensiteit van El Niño dikwels nie ooreenstem met die intensiteit van droogte nie. So was die seisoen met die swakste somergraanoeste in ten minste die afgelope 50 jaar die een van 1991/92 wat as ’n swak tot matige El Niño geklassifiseer is.”

Hy sê voorts was die baie sterk verskynsel van 1997/98 se impak weer minder as die 1991/92 El Niño se impak.

“Daar is dus ander faktore wat ook ’n rol speel,” sê Van den Berg. “Eerstens gaan dit oor die tyd wanneer dit begin ontwikkel en, meer belangrik, wanneer dit ’n piek bereik en verswak.” Die 1991/92 El Niño het eers ’n piek in Januarie en Februarie bereik, terwyl dit in 1997/98 reeds in November en Desember begin piek het.

“Die voorafgaande toestande speel ook ’n belangrike rol, want met heelwat herbruikbare grondwater kan dit die impak van die gebrek aan reën versag.”

Nog ’n rolspeler is die toestande in die nabygeleë Indiese Oseaan, verduidelik Van den Berg.

“Indien oppervlakwaters nader aan Afrika warmer as normaal is, kan dit aanleiding gee tot tropiese laagdrukstelsels oor die westelike Indiese Oseaan maar weer droeër lug oor die binneland van suidelike Afrika.”

OFM Nuus/Karen van der Berg

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.