Central SA
E-tol ses maande ná belofte steeds nie finaal afgeskaf – VF Plus─── 18:30 Sun, 11 Jun 2023
Dit is onaanvaarbaar dat Gauteng se premier voete sleep met sy belofte om die e-tolstelsel finaal af te skaf.
Panyaza Lesufi het in 2022 onderneem dat die Gautengse e-tolstelsel einde verlede jaar sou eindig waarna die nodige kennisgewing vroeg vanjaar gepubliseer sou word, maar die VF Plus merk met kommer op dat die omstrede stelsel steeds in bedryf is en rekeninge na padgebruikers gestuur word.
E-tolhekke oor Gautengse snelweë het op 3 Desember 2013 begin om e-tolrekeninge aan te teken. Sommige motoriste het die tolstelsel geboikot en met die jare derduisende rande in agterstallige rekeninge laat oploop. Talle het die swak toestand van alternatiewe roetes en ’n onbetroubare openbare vervoerstelsel as redes vir niebetaling aangevoer.

Gautengse VF Plus-LPW adv. Anton Alberts sê padgebruikers in dié provinsie is mislei oor die afskaffing van die gehate e-tolstelsel. Foto verskaf
Dié burgerlike ongehoorsaamheid is gerugsteun deur drukegroepe soos Outa (Organisation Undoing Tax Abuse), wat veldtogte en hofaksies teen e-tol ingestel het. Kort voor lank het die provinsiale regering, verskeie politieke partye en vakbonde by die boikot van die e-tolstelsel aangesluit.
Die saak het by die nasionale regering vasgeval toe die Nasionale Tesourie die skrapping van e-tol teengestaan het. Dié onenigheid het gelei tot teenstrydige boodskappe oor die omstrede stelsel.
Lesufi het laat verlede jaar aangekondig Gauteng het R12,9 miljard toegewys vir die uitskakeling van e-tol, wat ’n 30%-bydrae tot die uitstaande skuld van R43 miljard beloop.
‘Dit is onrusbarend dat daar nou ’n doodse stilte heers oor die status van die e-tol’
Die VF Plus het destyds gewaarsku e-tol sou aanhou funksioneer tot die minister van vervoer ’n formele kennisgewing kragtens die Sanral-wet uitvaardig wat die stelsel finaal afskaf. Dit het nog nie gebeur nie.
“Lesufi het Gautengse padgebruikers dus mislei deur die einde van die e-tolstelsel as ’n voldonge feit te stel met sy aankondiging verlede jaar,” sê adv. Anton Alberts, Gautengse VF Plus-LPW.
“Dit is onrusbarend dat daar nou ’n doodse stilte heers oor die status van die e-tol, wat talle ondernemings noop om steeds te betaal vir die gebruik van die getolde snelweë. Hierdie onnodige uitgawes speel ’n groot rol om ondernemings, veral klein en mediumgroot ondernemings wat reeds onder ekonomiese druk verkeer, verder te verarm.”
Alberts sê dit is nog onduidelik of diegene wat e-tolrekeninge betaal het, ? terugbetaling sal ontvang. “Daar heers veral onsekerheid of dit regtens en finansieel moontlik is.
“Daarby is daar onsekerheid hoe die Gautengse regering die oorname van 30% van die e-tolskuldlas gaan finansier en hoe hy die onderhoud aan Sanral-paaie in Gauteng gaan bekostig.”

Panyaza Lesufi, Gauteng se premier, het einde verlede belowe die e-tolstelsel sou vroeg vanjaar beëindig word. Die VF Plus wil weet waarom dit teen die middel van die jaar steeds nie gebeur het nie. Foto: Flickr
Alberts meen dit raak ál duideliker “dat die ANC in Gauteng hom besig hou met leë retoriek oor die e-tolstelsel ten einde guns te wen vir die 2024-verkiesing. Die kompleksiteit van die saak het duidelik vir Lesufi, wat van populistiese uitsprake en eenvoudige oplossings hou, ontkant gevang.”
Die VF Plus is steeds gekant teen die e-tolstelsel en belowe om in die Gautengse wetgewer druk op die premier te plaas om die e-tolstelsel vir goed nekom te draai.
“Indien die VF Plus as deel van ’n veelparty-koalisieregering die Gauteng-regering kan oorneem ná die 2024-verkiesing,” sê Alberts, “sal die party druk op die nasionale regering plaas om e-tol af te skaf en self alle skuld van die onwettige stelsel te dra.”
