Central SA
Twee vinnig aangekeer ná moord op Villiers-speurhoof─── 18:55 Sun, 11 Jun 2023
Die nasionale polisiekommissaris het die Vrystaatse polisie geloof vir die vinnige inhegtenisneming van twee verdagtes na dié moord op Villiers se speurhoof.
Die twee, wat binne 24 uur aangekeer is, is glo deel van ’n bende wat Vrydag (9/6) omstreeks 03:00 op die N3 naby dié Noord-Vrystaatse dorp ’n vragmotor gekaap het.
Ao. Neels du Rand (48) het kort daarna die polisiekantoor gebel en gesê hy agtervolg ’n gekaapte vragmotor op die grondpad tussen Villiers en Standerton. Hy het bystand versoek.
Die polisie het die inligting vinnig opgevolg. Josephine Rani, Vrystaatse polisiewoordvoerder, sê terwyl hulle besig was om die gebied te deursoek, het hulle opgemerk dat een van die plase se draadheining beskadig is.

Ao. Neels du Rand het amper 30 jaar in die SAPD gedien. Foto: Facebook
Kollegas het Du Rand, wat 29 jaar diens gehad het, se liggaam in sy Isuzu-bakkie gekry. Hulle moes die venster oopbreek om toegang daartoe te kry.
“Hy het vier skietwonde in sy rug opgedoen, maar niks is gesteel nie. Die gekaapte vragmotor is verlate sowat 8 km van Standerton in Mpumalanga gevind. ’n Voorlopige ondersoek toon dat die gekaapte vragmotor deur ’n wit BMW-sedan met vals nommerplate begelei is,” sê Rani.
Genl. Fannie Masemola het Saterdag ’n afvaardiging van senior beamptes na die huis van die ontslape lid gelei om die organisasie se steun aan sy gesin te betoon en hul meegevoel te betuig.
Intussen het die polisie in Gauteng ’n soektog na twee verdagtes van stapel gestuur nadat die sers. Leka Maja (41) Donderdag (8/6) tydens die opsporing van onwettige vuurwapens in Mamelodi doodgeskiet is. Drie verdagtes is noodlottig gewond.
‘Ons kan nie saam met misdadigers regeer nie’
Maja was verbonde aan die taktiese operasionele bestuursafdeling in die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek en het 14 jaar diens gehad.
Masemola sê die SAPD het oorlog verklaar teen misdadigers wat polisiebeamptes aanval en vermoor. “Dit is ’n oorlog wat deur misdadigers verklaar is; ons kan nie tweede kom nie.

Genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, sê die polisie sal volhard tot hulle die stryd teen misdadigers gewen het. FOTO: Twitter
“Ons kan nie saam met misdadigers regeer nie. Gemeenskappe het hul vertroue in ons gestel en ons moet terugveg om die veiligheid en sekuriteit van ons gemeenskappe en polisiebeamptes te verseker.
“Ons sal dienooreenkomstig reageer totdat ons hierdie stryd teen misdadigers wen. Die naasbestaandes van hierdie beamptes kyk op na ons om te verseker dat diegene wat agter hierdie moorde en aanvalle sit, die volle mag van die wet in die gesig staar.”
Die SAPD het R25 miljoen opsy gesit om die veiligheid en sekuriteit van alle polisiedienspunte vir hierdie boekjaar op te skerp.
Jan van Niekerk, Vrystaatse VF Plus-leier, het Vrydag gesê sy party gaan die provinsiale polisiekommissaris versoek om ’n spesiale taakspan op die been te bring om dringend aandag te gee aan die toenemende kapings in die Vrystaat, veral op die N3.
