Central SA
Opposisiepartye verwelkom ondersoek na Ace se studiebeurse─── 11:12 Mon, 12 Jun 2023
Opposisiepartye in die Vrystaatse Wetgewer verwelkom die ondersoek na bewerings van wanadministrasie met beursskemas deur die Premierskantoor tydens die Magashule-administrasie.
Die ondersoek word deur die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) behartig en sal na verwagting lig werp op die omstrede studiebeurse wat na bewering in die 2017/18-boekjaar deur die destydse premier Ace Magashule goedgekeur is.
Die VF Plus en die DA het die goedkeuring van pres. Cyril Ramaphosa, dat ondersoek ingestel word, as ’n “welkome verwikkeling” bestempel.
LEES OOK – Breaking News: SIU to investigate former Free State Premiers
"Vir te lank is belastingbetalers se geld onreëlmatig op studentekoste bestee. Gerugte van wanbestuur, korrupsie en politieke inmenging moet ondersoek word en skuldiges moet vervolg word,” sê Armand Cloete, Vrystaatse VF Plus-LPW.
"Studentefondse moet nie uit die premierskantoor bestuur word nie omdat dit ’n geleentheid kan skep vir die misbruik van mag en belastingbetalersgeld."
Die DA-leier in die Vrystaat, Roy Jankielsohn, sê die party is besig met die samestelling van ’n dossier oor die beursskema wat aan die SOE voorgelê gaan word.
“Baie Vrystaatse studente het van duur studies, befonds deur belastingbetalers, van die buiteland teruggekeer sonder plaaslike professionele akkreditasie in Suid-Afrika. Hierdie vrugtelose en verkwistende uitgawe is 'n voorbeeld van wanadministrasie wat ondersoek moet word,” sê Jankielsohn.
Die oudpremier, Sisi Ntombela, het in antwoord op vrae deur die DA in 2022 in die Vrystaatse Wetgewer bevestig dat die Ouditeur-Generaal onreëlmatighede met beursskemas gevind het, en dat ’n ondersoek deur die SOE aangevra is.
“Die formele proklamasie van hierdie ondersoek sal hulpbronne vir die ondersoek vergemaklik, wat plaaslike en buitelandse beurse sedert hul ontstaan moet insluit,” sê Jankielsohn.
Die DA het ook sy kommer uitgespreek oor die toekenningskriteria en uitgawes aan beurse, veral aan buitelandse universiteite. Een so 'n voorbeeld is befondsing wat aan die Bahcesehir-Universiteit in Turkye toegeken word. Die Vrystaatse regering het in die 2014/15-boekjaar R7,75 miljoen aan dié universiteit betaal, R32 miljoen in 2016/17 en R11,9 miljoen in 2017/18.
“Dit is nie toevallig dat die destydse premier Ace Magashule in 2017 'n eredoktorsgraad van dié universiteit ontvang het nie. Die skielike verhoging van R24,25 miljoen in befondsing in 2016/17 en die R20,1 miljoen afname 'n jaar later, bevestig die DA se bewerings dat dié eregraad gekoop is en dat geldwassery deur middel van buitelandse beursskemas plaasvind.”
