Central SA
Magashule geskors, maar 'nalatenskap leef voort in Vrystaat'─── TSHEHLA KOTELI 08:48 Tue, 13 Jun 2023

Die VF Plus is van mening dat die gevolge van die nou geskorste ANC-lid, Ace Magashule, steeds in die Vrystaat voortduur.
’n VF Plus-lid van die Vrystaatse Provinsiale Wetgewer, Armand Cloete, sê die regerende party kon van Magashule ontslae raak, maar die provinsie word steeds gelei deur kaders met dieselfde agenda as Magashule. “Die provinsie word steeds deur kaders soos Magashule regeer, wie se enigste motivering is om hulself tot nadeel van ons mense te verryk.”
Die regerende party het gister aangekondig dat hulle Magashule uit die party geskors het. In 'n mediaverklaring van die ANC word verduidelik dat die party se Nasionale Dissiplinêre Komitee vergader het om ’n besluit oor die voormalige hoofsekretaris, Magashule, te neem. “Die komitee het Magashule skuldig bevind aan die oortreding van verskeie reëls van die ANC se Grondwet,” lui die verklaring. Wat tot Magashule se skorsing uit die ANC gelei het, was sy versuim om aan die komitee te verduidelik hoekom hy nié geskors moet word nie. “Ná sy skuldigbevinding deur die komitee is Magashule toegelaat om redes aan te voer waarom hy nié uit die ANC geskors moet word nie. Ná verloop van sewe dae het die komitee geen vertoë in die verband ontvang nie.”
LEES OOK: Magashule denies stealing a cent from government
Dié voormalige Vrystaatse premier is deur die Valke aangekla vir sy beweerde betrokkenheid by die 2014-projek, waar miljoene rande na bewering deur sakemanne, staatsamptenare en maatskappye uit die provinsiale regering se geldkoffers gebuit is. Hy het vroeër vanjaar herhaal dat hy onskuldig is en dat hy nog nooit 'n sent van die regering gesteel het nie. Die miljoene ter sprake was die R255 miljoen wat bedoel was vir die verwydering van asbesdakke in die provinsie. Hy het voorheen gesê die aanklagte teen hom was slegs om hom uit die wedloop vir die ANC-topposisie te hou. Weens die aanklagte kon hy nie die party se 55ste Nasionale Verkiesingskonferensie bywoon nie.
LEES OOK: ‘Ntombela has continued in Magashule’s footsteps’
Die provinsiale voorsitter van ActionSA, Patricia Kopane, het voorheen gesê die Vrystaat het die gesig van korrupsie geword, met talle onvoltooide projekte wat slegs geskep is om die ANC-kabaal onder Magashule se opvolger as premier te verryk. Dit is ten spyte daarvan dat voormalige premier Sisi Ntombela die provinsie in die slegste toestand geërf het. Kopane het genoem dat die behuisingsprojekte in Silver City en Dark City, ter waarde van R260 miljoen, nog onvoltooid is. Sy het ook gesê munisipaliteite soos Kopanong, Matjhabeng, Maluti-a-Phofung en Mafube is verhale en 'n nalatenskap van 'n mislukte regering.