On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Gautengse kankerpasiënte in die steek gelaat

───   14:31 Tue, 13 Jun 2023

Gautengse kankerpasiënte in die steek gelaat | News Article
Amanda de Lange, Gautengse VF Plus-LPW.

Die Gautengse Departement van Gesondheid se voortdurende rompslomp met die behandeling van kankerpasiënte word beskryf as “onmenslik”.

Die departement het in Maart vanjaar R250 miljoen beskikbaar gestel vir die uitkontraktering van bestraling/onkologiedienste en nog sowat R530 miljoen om ander chirurgiese agterstande in te haal.

“Drie maande het al verloop,” sê Amanda de Lange, Gautengse VF Plus-LPW, “en steeds is die dienste nog nie uitgekontrakteer nie terwyl kankerpasiënte reeds gesterf het en daar meer bygekom het wat wag op behandeling.”

Sy sê verlede jaar het meer as 2 700 pasiënte op bestraling gewag, maar net 300 het tot dusver die nodige behandeling ontvang. Bestraling word by die Steve Biko-hospitaal in Pretoria en die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg aangebied, wat nie die druk kan hanteer nie.

‘Vroegtydige behandeling kan baie kankerpasiënte se lewe red’ – De Lange

Die VF Plus het ’n brief geskryf aan Nomantu Nkomo-Ralehoko, Gautengse LUR vir Gesondheid, om antwoorde rakende die probleem te vind. “Ons wil by die LUR weet of daar ’n afwyking van die normale tenderproses vir die uitkontraktering van die dienste sal wees om die dringendheid van die situasie aan te spreek,” sê De Lange.

Die agterstandlys van kankerpasiënte moet ook so gou moontlik opgedateer en pasiënte moet geëvalueer word om te bepaal hoe dringend hulle bestraling of chirurgie benodig.

Die VF Plus sal aanhou druk plaas op die LUR om dringend werk te maak van die lot van kankerpasiënte en erns te maak met hul behandeling. “Vroegtydige behandeling kan baie kankerpasiënte se lewe red,” sê De Lange. “Tans versaak die Gautengse gesondheidsdepartement kankerpasiënte.”

OFM Nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.