Central SA
Talle strate gesluit vir Jeugdagviering in Bloemfontein─── LUCKY NKUYANE 07:32 Fri, 16 Jun 2023
Mangaung-metro sluit vandag (16/6) talle strate met die oog op Jeugdagvieringe.
In Bloemfontein word dié vakansiedag, wat die Soweto-opstand van 16 Junie 1976 gedenk, vanjaar in die Petrus Molemela-stadion in Rocklands gevier. Adj.pres. Paul Mashatile sal die hoofrede lewer.
Qondile Khedama, munisipale woordvoerder, sê in afwagting van die groot skare word minstens vyf strate in die omgewing van die stadion van 07:00 Saterdagoggend tot ná die geleentheid gesluit. Dit sluit in die hoek van Moshoeshoeweg en Thakalekoalastraat, en Thulo-, Kamohi- en Khampepestraat.
Hy sê die metro se verkeers- en wetstoepassingsafdeling sal nou met die polisie saamwerk om die verkeer te reguleer. “Ons maan die publiek om hul samewerking aan verkeersbeamptes en die polisie te gee.”
Gregory Nthatisi, Mangaung se waarnemende burgemeester, sou gaste en belanghebbendes by die geleentheid verwelkom, wat veronderstel is om 08:00 te begin.
