Central SA
Sosiale media gaande oor SA brandhelde in Kanada – en hul sang─── LUCKY NKUYANE 18:03 Fri, 16 Jun 2023
Die Suid-Afrikaanse brandbestryders, onder wie 58 van die Vrystaat, wat brande in die Kanadese provinsie Alberta help bestry, lok groot waardering uit op sosiale media.
Video’s van die eerste span Suid-Afrikaners word wyd op platforms soos TikTok en Twitter gedeel waar hulle geloof word as helde omdat hulle bereid is om in die vreemde bystand te verleen.
Die Suid-Afrikaanse regering het die afgelope week gesê ná die oorspronklike span van 200 brandbestryders en 15 bestuurders het ’n tweede span van nog 200 tesame met 13 bestuurders Woensdag (14/6) na die stad Edmonton vertrek. Alberta, waar dit nou hoogsomer is, het dié seisoen reeds onder meer as 500 veldbrande gely.
Suid-Afrika en Kanada het in 2019 ooreengekom om hulpbronne uit te ruil om sulke brand te help bestry nadat brandspanne van hier voorheen bystand verleen het in Alberta en nog ’n prêrieprovinsie, Manitoba, wat ook gekenmerk word deur boomlose vlaktes van golwende graslande en plantasies waar brande ongehinderd kan verspei.
In die eerste twee weke van Junie het verskeie brande meer as 400 000 ha in Wes-Kanada verwoes, terwyl tienduisende mense hul woonplek moes ontruim en talle geboue afgebrand het. Die verstikkende rook het gelei tot waarskuwings oor luggehalte in plekke soos die stad New York, meer as 3 000 km daarvandaan.
Die tweede span het Donderdag in Edmonton geland terwyl na raming meer as 400 brande steeds in Kanada woed, waaronder meer as 160 bosbrande in die provinsie Quebec. Sosialemediagebruikers loof die span vir hulle onbaatsugtige hulp, terwyl talle gaande is oor hulle treffende sang.
