Central SA
Man vermoor glo buurman met hamer─── HEIDRÈ MALGAS 10:16 Mon, 19 Jun 2023
’n Man (32) verskyn vandag in die hof op ’n aanklag van moord, onder meer, nadat hy sy buurman na bewering met ‘n hamer aangeval het.
Volgens polisiewoordvoerder, Lorraine Earle, is die verdagte deur die Bloemspruit-polisie in Monnahalatwe in hegtenis geneem op aanklagte van moord, poging tot moord en brandstigting.
“Die polisie het 'n klag ontvang en ’n patrollievoertuig na die toneel gestuur. Met hul aankoms het hulle die lewelose liggaam van 'n 27-jarige man langs 'n uitgebrande sinkhuis aangetref met ernstige kopbeserings,” sê Earle.
Sy vertel die vermoede is dat die verdagte die slagoffer en sy vriendin aangeval het terwyl hulle geslaap het. Albei slagoffers het uit die skuur gevlug, maar die manlike slagoffer het buite inmekaargesak en is dood verklaar.
“Die vroulike slagoffer is na die hospitaal geneem vir mediese behandeling. Berigte beweer dat die verdagte toe die slagoffer se sinkhuis met paraffien aan die brand gesteek het.”
Die rede vir die aanval is onbekend.
OFM Nuus
