On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Noord-Kaap se swak matriekslaagsyfer bekyk

───   HEIDRÈ MALGAS 12:55 Wed, 21 Jun 2023

Noord-Kaap se swak matriekslaagsyfer bekyk | News Article
FOTO: SABC News

Die bewyse van wanbesteding in die Departement van Onderwys in die Noord-Kaap het ’n nadelige uitwerking op leerders. Die provinsiale matriekslaagsyfer is die tweede laagste.

Die DA-wetgewerlid Priscilla Isaacs sê sy het eerstehandse ervaring van die hoogte- en laagtepunte van die onderwysstelsel: die vreugde wanneer leerders slaag, asook die hartseer van maatskaplik-ekonomiese probleme soos tienerswangerskappe en dwelmmisbruik wat kinders van ’n beter toekoms beroof.

“Om ’n onderwyser te wees is een van die moeilikste beroepe ter wêreld, maar as jy dit reg doen, kan dit baie lonend wees. Ek wil die harde werk en toewyding loof van die baie opvoeders, hoofde, administratiewe personeel en amptenare wat elke dag hul bes doen vir ons leerders,” sê sy.

Die Covid-19-pandemie het verskeie tekorte in Suid-Afrika se onderwysstelsel blootgelê. Meer as 80% van gr. 4-leerders kan nie met begrip lees nie.

“Die Noord-Kaap se geletterdheidsyfer is vyfde in die land. As ons nie ’n sterk grondslag van geletterdheid en syfervaardighede kan lê nie, kan die swak provinsiale matriekslaagsyfer nie 'n verrassing wees nie.”

Sy sê die provinsiale uitvalsyfer is ook kommerwekkend hoog. Meer as 41% van die leerders wat in 2020 vir gr. 10 ingeskryf was, het nie in 2022 hul matriekeksamen afgelê nie.

“Ongelukkig dra tienerswangerskap steeds by tot hierdie hoë uitvalsyfer. Van April 2020 tot Junie 2021 was meer as 5 000 meisies swanger. Daar is ’n gebrek aan ouerlike ondersteuning, onveilige ritte na skole en druk om geld te verdien in hierdie moeilike tye,” sê Isaacs.

Die DA het opgemerk dat die departement die gebruik van woonhuise wil bevorder om te verseker dat leerders meer aktief betrokke is by skoolgemeenskappe en as 'n kostedoeltreffende alternatief vir leerdervervoer.

“Leerders betaal reeds die prys vir departementele wanbetaling van munisipale rekeninge. Op Victoria-Wes, Loxton en Richmond het skole hul krag afgesny omdat daar nie ooreengekom kan word watter department dit moet betaal nie. En, terwyl amptenare kibbel, ly die kinders.”

Die departement beweer dat sy begroting onvoldoende is. Hoewel dit waar kan wees dat die departement ekstra geld benodig, is dit ook waar dat sy finansiële bestuur swak is, sê sy.

Isaacs sê die begroting wat deur die departement voorgelê is, was vol foute en misverstande. Selfs nadat regestellings aangebring en aan die portefeuljekomitee voorgelê is, kry ’n mens nie die indruk dat hierdie departement werklik toegerus is om 'n effektiewe, kostedoeltreffende onderwysstelsel daar te stel nie.

OFM Nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.