Central SA
Bloemfonteinse polisie red hond van vlammedood─── HEIDRÈ MALGAS 08:00 Tue, 27 Jun 2023

Die Bloemfonteinse polisie het ’n hond gered wat beseer is in 'n brand by ’n stortingsterrein.
’n Inspekteur van die Bloemfonteinse DBV, Werner Botha, sê Suid-Afrikaners steek stortingsterreine aan die brand vir hitte, wat gesondheidsrisiko's vir die natuur, mense en diere inhou.
Hy sê in ’n onlangse polisieoptrede by 'n stortingsterrein in Bloemfontein het die polisie ’n hondjie daar gekry. Sage het ernstige brandwonde aan haar pote en lyf opgedoen terwyl sy van die vlamme probeer wegkom het.
Polisiebeamptes het Sage van 'n vlammedood gered. FOTO: Verskaf
“Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het vinnig gereageer en Sage na die Bloemfonteinse DBV gebring vir dringende mediese aandag. Sy was swak, gedehidreer en in pyn.”
Sy het vel op haar pote verloor en kleiner brandwonde op haar onderlyf opgedoen.
Weens die omvang van Sage se beserings het die DBV haar dadelik na 'n veearts geneem. Die siek hond is steeds in 'n swak toestand en benodig voortdurend mediese behandeling en sorg om haar te help herstel en infeksie te voorkom.
Die Bloemfonteinse DBV doen ’n beroep op die publiek om te help met die dekking van Sage se mediese rekening, om haar gesondheid en welstand te help verseker.
Die koste van behandeling is tot dusver R4 000.
Hy sê ten spyte van haar erge pyn en ongemak, bly Sage 'n pragtige hondjie. Die DBV-span is toegewyd om alles moontlik te doen om haar 'n tweede kans op 'n gelukkige en vervulde lewe te gee.
OFM Nuus