Central SA
Geliefde Kroonstadse koerantvrou Tharine het talle lewens aangeraak─── 14:57 Tue, 27 Jun 2023
“Daar is nie woorde om haar goedheid te beskryf nie,” sê Kaitlin Hurter (23) oor haar ma, Tharine Hurter (52), oudredakteur van die Noord-Vrystaatse koerant KroonNuus, wat Woensdag (26/6) uit die NG Gemeente Kroonheuwel-Noord begrawe word.
Hurter het 14 jaar lank as verslaggewer en redakteur van KroonNuus (nou VrystaatKroon) gewerk en is Donderdag (22/6) oorlede.
Kaitlin sê haar ma was die soort mens wat altyd gegee het. “Sy het soveel projekte in die dorp begin. Dit was alles om dinge vir ander mense mooier of beter te maak.”
Haar ma was so ingestel op die mooi van die lewe dat sy selfs die sypaadjies in dele van Kroonstad met blomme beplant het. Sy het ook jare lank die plaaslike Kerskonsert gereël om vir minderbevoorregtes blikkieskos in te samel.

Tharine Hurter het 14 jaar lank by ’n gemeenskapskoerant op Kroonstad gewerk.
Kaitlin sê hulle gaan haar en haar stories verskriklik baie mis. “Sy het alles met soveel passie gedoen. Daar het ink in haar bloed gevloei. Ons sal haar nooit vergeet nie. Sy het so ’n groot impak gemaak en mense aangeraak.”
Hurter, wat op 23 Mei 52 geword het, het ’n week voor haar dood ’n hartaanval gehad en ’n tweede die Sondagmiddag terwyl sy in die ongevalleafdeling van die Netcare Kroon-hospitaal was.
Sy is daarna na die Life Rosepark-hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas. Sy het ’n derde hartaanval gehad en moes ’n noodoperasie ondergaan en ’n hartomleiding ontvang. Sy is vroeg Donderdag oorlede.
Benewens Kaitlin word Hurter oorleef deur haar ma, Kotie Hurter, haar broer, PG Hurter, en haar seun, Jacques Geldenhuys.
OFM Nuus/Karen van der Berg
