Central SA
Pragtige blommeskouspel ná goeie reen in Namakwaland─── HEIDRÈ MALGAS 13:49 Wed, 28 Jun 2023

Die Richtersveld in die noorde van Namakwaland verwag ’n pragtige blommeskouspel ná goeie reën sedert Mei vanjaar.
Die streekwoordvoerder vir SANParke, Genevieve Maasdorp, sê daar is ’n wye verskeidenheid van blomme wat gesien kan word. Die meeste is natuurlik die vetplante wat vol in die blom sal wees, soos vygies en perdeblomme.
“Goeie reënval speel ’n baie belangrike rol, aangesien hierdie plante baie reën nodig het om te blom. Hoewel hulle in lang droogtes kan oorleef, is hulle nie noodwendig in blom nie,” sê Maasdorp.
Sy sê dat die plante sagte, deurdringende reën nodig het, asook min wind, sonskyn en warm dae om op hul beste te floreer en te blom.
“Die beste tyd om die blomme in volle blom in die |Ai-|Ais/Richtersveld Oorgrenspark te sien, is van middel Julie tot einde Augustus. Indien die weerstoestande gunstig is, kan dit selfs strek tot middel September.”
Maasdorp vertel meeste van hierdie plante het historiese en kulturele name en is vir medisinale doeleindes gebruik. FOTO: Verskaf
Sy sê die Richtersveld Kwekery in Sendelingsdrift se eie botanis doen alles in sy vermoë om die plante te bewaar vir die nageslag.
“Ons het verskeie staproetes en 4x4-roetes in die park, wat ’n uitstekende ervaring vir ’n blomkyker bied, soos die Venstervalle-staproete,” sê Maasdorp.
Hierdie is die eerste keer sedert 2014 wat die omgewing sulke goeie reënval ontvang wat dit in ’n groen paradys omtower.
Die meeste van hierdie plante het historiese en kulturele name en kan vir medisinale doeleindes gebruik word.