Central SA
Talle brande in Bloemfontein aangemeld─── HEIDRÈ MALGAS 16:27 Wed, 28 Jun 2023

‘n Huurhuis in Raymond Mhlabastraat het Woensdag gebrand en twee honde is deur die Bloemfonteinse DBV uit die vlamme gered.
Volgens Braam van Zyl van die Mangaung-brandweer-en-reddingsdiens, het hulle net ná 09:00 'n oproep ontvang van 'n huis in Raymond Mhlabastraat wat aan die brand is. Binne sewe minute was twee brandweerwaens daar. Teen daardie tyd was alle inwoners gelukkig reeds veilig uit die huis.
“Die brandweer moes die huis oopbreek om toegang te verkry en die vuur is vinnig geblus. Dit het glo in een kamer begin en deur die plafon versprei na die res van die huis. Die hondjies is gered, maar twee voëltjies het dit nie oorleef nie,” sê Van Zyl.
Van Zyl sê dat daar groot skade aan die huis is, maar dit is gelukkig nie totaal verwoes nie.
’n Inspekteur van die Bloemfonteinse DBV, Werner Botha, vertel dat hulle 'n klag van 'n huisbrand ontvang het.
Brandbestryders kon daarin slaag om een van die gesin se honde uit die vlamme te red, wat deur medici vir rookinaseming behandel is. Die Bloemfonteinse DBV het die versorging van die hond voorlopig oorgeneem.
"Ons het na die toneel gegaan en ons was gelukkig om twee honde wat in die huis was te red. Die twee honde het effense brandwonde opgedoen en baie rook ingeasem. Hulle word tans deur 'n plaaslike veearts behandel en sal in ons veilige bewaring bly totdat hulle na hul eienaars kan terugkeer," sê Botha.
Verder vertel Van Zyl dat daar ook Dinsdagmiddag 'n veldbrand op die Meadows-pad was wat na 'n stoor uitgebrei het.
"Voordat die brandweer daar aangekom het, het mense die swart rook gesien en versterkings gevra," sê Van Zyl.
Van Zyl sê in die proses is 'n stoor, vier motors en twee motorfietse verwoes. Die brandweer kon gelukkig verhoed dat die vuur na die hoofhuis versprei.