Central SA
Hartswater staan saam teen kanker─── HEIDRÈ MALGAS 13:01 Thu, 29 Jun 2023
Shoprite Checkers OFM Chip 4 Charity is vandag in Hartswater om hul deel te doen en terug te gee aan diegene wat dit nodig het.
Hierdie jaar se begunstigde van Hartswater is Jan Roux (17) by wie mio-epiteelkarsinoom in Maart gediagnoseer is. Ná verskeie bestralings benodig hy nou chemoterapie.
Mio-epiteelkarsinoom is 'n seldsame kwaadaardige (kankeragtige) gewas wat gewoonlik in die speekselkliere voorkom. Dit kan egter ook in die vel en sagteweefsel voorkom.
OFM, die klank van jou lewe, se Good morning Breakfast het met Jan Roux gepraat en die aanbieder van die program, Shandor Potgieter, het genoem dat Roux 12 mediese dokters en twee professors gesien het, baie bloedtoetse is gedoen, asook drie CT-skanderings en twee MRI-skanderings, en steeds het hy die onderhoud met ’n glimlag gedoen.
Roux het aan die luisteraars vertel dat hy bevoorreg voel dat so baie mense van hom en sy siekte weet. Hy het genoem dat dit beter gaan en dat sy pyn baie minder is as voorheen.
Sy pa, Mannie, sê dat Jan ses chemoterapiesessies elke drie weke moet kry en elke sessie kos R14 000.
"Die boere het saamgestaan en gesê die kind gaan nie weer na 'n staatshospitaal toe nie, hy moet na 'n private hospitaal toe gaan," sê Mannie.
Die Bemarkings- en Verkopebestuurder vir OFM, die klank van jou lewe, Anchen Lintvelt, sê al die opbrengste van vandag se Shoprite Checkers OFM Chip 4 Charity-geld sal eksklusief na uitgekose ontvangers en liefdadigheid gaan.
Die Handelsmerkbestuurder vir OFM, die klank van jou lewe, Bianca Smit, sê om deel te wees van die inisiatief en 'n verskil te kan maak, is die hoofrede waarom OFM deel is van hierdie wonderlike liefdadigheidsaak.
As jy nie vir liefdadigheid gaan gholf speel nie, sorg dan dat jy die dag voor die tyd op jou dorp 'n boereworsrol koop vir liefdadigheid!
Lees meer oor Boeries 4 Blankets: https://www.ofm.co.za/event/1448/boeries-4-blankets
