Central SA
Inwoners kyk hulpeloos toe hoe Jagersfontein-gebou afbrand─── HEIDRÈ MALGAS 13:04 Thu, 29 Jun 2023
Al nege dorpe in die Kopanong Plaaslike Munisipaliteit, insluitend Jagersfontein, het al vir meer as ’n jaar min tot geen water nie. Dit het daartoe gelei dat ’n onderneming in Jagersfontein verwoes is.
'n VF Plus-parlementslid in die Nasionale Raad van Provinsies (NRVP), Adriaan de Bruyn, sê Bloemwater het in Februarie 2022 waterdruk in die hele Kopanong-gebied tot 30% verlaag weens wanbetaling deur die munisipaliteit. As gevolg hiervan het groot dele in die munisipaliteit geen toegang tot water nie.
Die munisipaliteit skuld Bloemwater meer as R600 miljoen.
“Die afwesigheid van brandweerdienste, toerusting en selfs water het daartoe gelei dat inwoners hulpeloos moes toekyk hoe die gebou afbrand. Die burgemeester van die munisipaliteit het ná die ramp verlede jaar erken dat daar geen rampbestuursentrums, toerusting ensovoorts in Kopanong is nie,” sê De Bruyn.
Hy sê volgens die burgemeester word daar slegs R96 miljoen per jaar hiervoor begroot en 92% van die begroting word bestee aan salarisse. Amper ’n jaar later het die situasie geensins verbeter nie en daar is ook nog geen daadwerklike planne op die tafel om dit te verbeter nie.
“Daar is geen politieke wil vanaf die Kopanong-munisipaliteit om enigsins in die belang van sy inwoners op te tree nie. Weens finansiële wanbestuur is daar ook geen geld beskikbaar om enige maatreëls in plek te stel nie” sê hy.
Hy sê die enigste langtermynoplossing is vir inwoners om aktief deel te neem aan volgende jaar se verkiesing en sodoende te verseker dat ’n bekwame regering verkies word.
De Bruyn sê die adjunkpresident, Paul Mashatile, het vroeëer die maand in ’n sitting van die NRVP gesê dat hy ’n span stuur na Kopanong om die algemene wanbestuur aan te spreek, maar hy het geen tydlyn bevestig nie. “Om die totale verval van Kopanong te beredder gaan jare neem en dit is nie binne die ANC se vermoë om dit te doen nie.”
