On Now
Weekdays 22:00 - 23:59
Overnight OFM
Show Background
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

NWU het eksamenvraestel glo verkeerdelik uitgedeel

───   12:32 Sat, 01 Jul 2023

NWU het eksamenvraestel glo verkeerdelik uitgedeel | News Article
Die NWU se Registrateur het ’n ondersoek aangevra nadat die aangeleentheid aan die lig gekom het.

Die Noordwes-Universiteit (NWU) ondersoek tans ’n voorval waar ’n eksamenvraestel onder studente versprei is en gebruik is om vir ’n latere eksamen voor te berei.

Die betrokke wiskundevraestel is verkeerdelik op Vrydag (9/6) by twee van die vyf eksamenlokale op die Potchefstroomkampus uitgedeel. Dit was die eksamenvraestel wat die studente op Dinsdag (13/6) sou skryf.

Sekere Noordwes-Universiteit eerstejaarstudente en hul ouers is ongelukkig oor die toedrag van sake nadat foto’s van die wiskunde-vraestel deur studente versprei is.

Nadat toesighouers die fout besef het, het hulle gevra dat die vraestelle ingehandig moet word. Sommige studente het dit egter nie terugbesorg nie. Die vraestel is daarna met hul medestudente gedeel om vir Dinsdag 13 Junie voor te berei.

‘Hoekom is daar nie ’n nuwe eksamenvraestel opgestel met die wete dat die oorspronklike vraestel uitgedeel is nie?’

Een van die studente het gesê sy het die verkeerde vraestel daardie Vrydag ontvang, maar dit dadelik aan die toesighouer terugbesorg het. Sy was ook nie bewus dat die vraestel later versprei is nie.

’n Ontstelde ouer het verduidelik sy kan nie verstaan hoekom daar nie ’n nuwe eksamenvraestel opgestel kon word met die wete dat die oorspronklike vraestel uitgedeel is nie.

“Dit is nie regverdig teenoor die studente wat eerlik was en hard geleer het vir die eksamen nie,” het een ouer gesê.

Akademiese integriteit is ononderhandelbaar vir die NWU, het Jacobs gesê.

Die NWU woordvoerder, Louis Jacobs, het by navraag genoem dat die universiteit van die voorval bewus is en dat die Registrateur ’n ondersoek gevra het nadat die aangeleentheid aan die lig gekom het.

“Akademiese integriteit is ononderhandelbaar vir die NWU. ’n Onafhanklike maatskappy is verantwoordelik vir die verspreiding van alle vraestelle,” het Jacobs verduidelik.

“Omdat daar soveel aspekte en partye betrokke is by die aangeleentheid, wil ons verseker dat dit met alle omsigtigheid en deursigtigheid hanteer word. Die saak word met erns hanteer, en alle betrokke partye sal oor die uitslag ingelig word. Dit is vir die NWU van kardinale belang dat geen betrokkenes benadeel of bevoordeel word nie,” het Jacobs gesê.


Die betrokke dosent het op die aanlyn e-Fundi platform ’n boodskap aan studente ná afloop van die eksamen gestuur waar die optrede van oneerlike studente ten sterkste veroordeel word.

“Dit is ’n baie ongelukkige gebeurtenis, aangesien studente wat by ’n universiteit inskryf, inskryf om ’n professionele loopbaan te volg waar die lewens van ander mense van hul optrede sal afhang. ln ’n professionele werkplek geld dieselfde waardes soos deur die NWU onderskryf. As jy bereid is om ’n onvoorsiene situasie te misbruik deur oneerlik op te tree om jouself bo ander studente te bevoordeel in ’n eksamen, hoe ver sal jy bereid wees om te gaan in die werkplek waar jy dalk verantwoordelik is vir groot bedrae geld wat nie joune is nie?” lees die boodskap.

Potchefstroom Herald/OFM Nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.