Central SA
ANC-raadslid misbruik na bewering subsidies vir behoeftiges─── 13:05 Sat, 01 Jul 2023
'n ANC-raadslid, wat in 2016 tot wyksraadslid verkies is, moet moontlik eiendomsbelasting vir die afgelope sewe jaar ten volle aan die munisipaliteit terugbetaal en daar kan strafregtelik teen hom opgetree word.
Andries Lekeletsane is glo as 'n behoeftige geregistreer om van munisipale tariewe kwytgeskeld te word.
Hy verdien sowat tien keer meer as die vereiste limiet vir so ‘n subsidie, naamlik bykans R40 000 per maand. Net mense wat R3 500 of minder verdien, kwalifiseer vir belastingbetalersubsidies.
Die VF Plus het, as lid van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit se finansiële komitee, in ’n ondersoek na raadslede wat agterstallig is met hul munisipale rekeninge gevind dat ’n ANC-raadslid na bewering jare reeds as ’n behoeftige geregistreer is.
Lekeletsane kry die afgelope sewe jaar korting op sy eiendomsbelasting en ontvang ook die eerste 6 kiloliter water en 50 krageenhede gratis.
Inwoners van Emfuleni moet elke drie jaar heraansoek doen om as behoeftiges te kwalifiseer. Dit beteken dat dié raadslid al twee keer heraansoek gedoen het om op die lys van behoeftiges geplaas te word.

Gerda Senekal, Proporsionele Verteenwoordiger van die VF Plus. Foto: www.emfuleni.gov.za/
“Dit is ? skande dat ? raadslid wat ruim vergoed word homself nie van die lys vir behoeftiges verwyder het ná sy verkiesing as raadslid nie,” sê Gerda Senekal van die VF Plus.
“Die VF Plus neem ook Emfuleni se rekeningafdeling kwalik omdat daar nie vroegtydig vasgestel is dat die raadslid se naam op die lys is nie.
“Dié lys moet dringend geoudit word om vas te stel of daar nie ander gevalle is nie.”
Die VF Plus het in ’n dringende skrywe aan die waarnemende munisipale bestuurder van Emfuleni, April Ntuli, geëis dat die raadslid dadelik van die behoeftige lys verwyder word en daar ’n ondersoek na sy optrede gelas word.
“Die VF Plus sal nie toelaat dat raadslede inwoners aanmoedig om hul munisipale rekeninge te betaal terwyl hulle self nalaat om dit te doen of voorgee om behoeftig te wees nie.”
VF Plus Mediaverklaring/OFM Nuus
