Central SA
Vierde lyk gevind ná Noord-Kaapse vloed─── LUCKY NKUYANE 08:18 Mon, 03 Jul 2023

’n Soek- en reddingspan van die SAPD het Sondag daarin geslaag om ook die vierde liggaam uit die water te haal in die Buffelsrivier-area, ná oorstromings in Namakwaland in die Noord-Kaap.
Drie is buitelanders en die vierde een is volgens die polisie Jowin Nero, ’n 35-jarige voormalige polisiebeampte van die dorpie Buffelsrivier. Die buitelanders se identiteit moet nog vasgestel word. Die vyfde vermiste persoon word steeds gesoek.
LEES OOK: Bodies recovered after Northern Cape floods, yet to be identified
Die tragedie volg op ongekende en swaar stortreën wat die afgelope twee weke in die Nama Khoi-munisipale gebied geval het.
Mervin Cloete, uitvoerende burgemeester van die Namakwa-distriksmunisipaliteit op Springbok, het gesê dat hulle tydens ’n raadsvergadering Maandag 3 Julie ’n resolusie sal neem dat die area tot rampgebied verklaar moet word.
Sowat ’n jaar gelede wou dieselfde raad die area tot ’n rampgebied laat verklaar weens droogte.
Die plaaslike munisipaliteit het swaar masjinerie ontplooi om uitgrawings te doen. Foto: Verskaf
Volgens die Nama Khoi munisipaliteit se woordvoerder, Jason Milford, is ’n span van Gift of the Givers reeds besig om humanitêre steun en ander hulp te verleen, veral aan Buffelsrivier se kwesbare en behoeftige inwoners.
"Die plaaslike owerhede werk onverpoosd daaraan om meer inligting in te samel en die families wat deur hierdie verwoestende verlies geraak is in kennis te stel. Ten spyte van hierdie slegte nuus, is daar steeds een persoon wat vermis word, en die soektog duur voort met onwrikbare vasberadenheid," het die munisipale woordvoerder, Jason Milford, gesê.
Swaar masjinerie is ontplooi om die pad te herstel sodat hulpvoertuie toegang tot Buffelsrivier kan kry. Foto: Verskaf
Hy sê met begrip vir die dringende behoefte aan bystand, het die plaaslike munisipaliteit onmiddellik opgetree deur swaar masjinerie te ontplooi om uitgrawings te doen en die pad skoon te maak sodat hulpvoertuie toegang tot Buffelsrivier kan kry vir die aflewering van noodsaaklike voorrade soos kospakkies en medisyne.
Dr. Gustav Bock, burgemeester en mediese dokter, het die pasgebore baba in Buffelsrivier besoek. Foto: Verskaf
"Die burgemeester van die Nama Khoi Munisipaliteit, dr. Gustav Bock, wat toevallig ook 'n mediese dokter is, het die pasgebore baba in Buffelsrivier besoek. Die burgemeester het tevredenheid met die baba se gesondheid uitgespreek en 'n sprankie hoop gebring te midde van die tragedie.
“In 'n gekoördineerde poging het die Suid-Afrikaanse Polisiediens 'n helikopter ontplooi om noodsaaklike ondersteuning te verskaf. Hierdie lugbystand maak voorsiening vir die vinnige aflewering van noodsaaklike goedere aan nie net Buffelsrivier nie, maar ook die naburige gemeenskappe van Komaggas en Kleinsee," het Milford gesê.
OFM Nuus/Lucky Nkuyane en Isaac Cloete