Central SA
NWU se ondersoek na eksamenvraestel-debakel duur voort─── ZENANDE MPAME 09:21 Mon, 03 Jul 2023
Die Noordwes-Universiteit (NWU) se ondersoek duur voort na ’n voorval waar ’n eksamenvraestel onder studente versprei is en gebruik is om vir ’n latere eksamen voor te berei.
“Die ondersoek na die aangeleentheid duur steeds voort en intussen sal alle studente wat vir die module ingeskryf is, die vraestel weer op 19 Julie ná die herassessering skryf,” het Louis Jacobs, NWU-woordvoerder, gesê.
Die betrokke wiskundevraestel is verkeerdelik op Vrydag (9/6) by twee van die vyf eksamenlokale op die Potchefstroomkampus uitgedeel. Dit was die eksamenvraestel wat die studente op Dinsdag (13/6) sou skryf.
Sekere Noordwes-Universiteit eerstejaarstudente en hul ouers is ongelukkig oor die toedrag van sake nadat foto’s van die wiskunde-vraestel deur studente versprei is.
Nadat toesighouers die fout besef het, het hulle gevra dat die vraestelle ingehandig moet word. Sommige studente het dit egter nie terugbesorg nie. Die vraestel is daarna met hul medestudente gedeel om vir Dinsdag 13 Junie voor te berei.
“Akademiese integriteit is ononderhandelbaar vir die NWU. ’n Onafhanklike maatskappy is verantwoordelik vir die verspreiding van alle vraestelle,” het Jacobs verduidelik.
“Omdat daar soveel aspekte en partye betrokke is by die aangeleentheid, wil ons verseker dat dit met alle omsigtigheid en deursigtigheid hanteer word. Die saak word met erns hanteer, en alle betrokke partye sal oor die uitslag ingelig word. Dit is vir die NWU van kardinale belang dat geen betrokkenes benadeel of bevoordeel word nie,” het Jacobs gesê.
