On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

SAOU vereer onderwysers

───   ELSABÉ DE JAGER 12:45 Mon, 03 Jul 2023

SAOU vereer onderwysers | News Article
Die SAOU het onderwysers en skole vereer vir hul uitmuntende werk. Foto: Freepik

“Wat die wenners in gemeen het, is die konstante lewering van goeie werk, ver bo wat van hulle verwag word.”

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) het verlede week op sy driejaarlikse kongres onderwysers en skole vereer vir hul uitmuntende werk op verskeie onderwysterreine.

Die uitvoerende hoof van SAOU, Chris Klopper, sê die wenners is almal persone wat lank nadat die skoolklok die einde van die dag aangekondig het, steeds voortgaan met hul werk. Daar was veel meer onderwysers en skole van hoë gehalte as die 14 toekennings wat gemaak kon word.

Drie van die uitblinkers het met OFM oor hulle toekennings gesels.

Vir uitnemendheid in klaskamerpraktyk binne primêre skole is Ansie Kruger van Dr. CF Visser Primêre Skool as die wenner aangewys.

Ansie Kruger is ’n onderwyseres van Dr. CF Visser Primêre Skool. Foto: Verskaf

Dié Bloemfonteiner sê afgesien van die erkenning en toekenning waarvoor sy dankbaar is, beteken die groei en ontwikkeling van die leerders by die CF Visser Primêre Skool vir haar selfs nog meer. Sonder die Vissiespan sou sy nie haar kreatiwiteit kon uitleef nie.

Karin Potgieter van Noordwes is bekroon vir uitnemendheid in onderwysleierskap aan ’n sekondêre skool. Dié onderwyseres van Bergsig Akademie in Rustenburg voel nederig oor die eer wat haar te beurt geval het.

Sy sê die besondere hoogtepunt kon sy slegs behaal met die ondersteuning van familie, vriende, mentors en ’n netwerk van kollegas deur al die jare in haar onderwysloopbaan.

Potgieter dra die toekenning aan haar personeel, leerders en ouers op.

Karin Potgieter onderwyseres van Bergsig Akademie. Foto:  Verskaf

Kollegas van die Hoërskool Die Wilge in Potchefstroom is dit eens dat Rita Clarke die perfekte keuse was om met die louere in die kategorie Uitnemendheid in Onderwysleierskap: LSOB-skole weg te stap.   

Dié onderwyseres, wat glo dat daar altyd nog méér is wat ’n mens kan leer, is ook onlangs aangewys as distrikswenner vir die National Teachers Awards.

Rita Clarke onderwyseres van die Hoërskool Die Wilge. Foto verskaf

Clarke se passie vir die onderwys word uitgeleef in die pad wat sy saam met haar leerders met spesiale onderwysbehoeftes stap. Sy hoop dat die toekenning ook as aansporing sal dien tot groter erkenning aan LSOB onderwys.

’n Les wat sy by jong onderwysers wil inskerp, is dat die impak van ’n onderwyser op ’n skoolkind lewenslank duur.

“Ek werk met kindersiele en dis vir my so kosbaar,” sê Clarke.

Sewe skole is ook vereer vir bydraes ten opsigte van inklusiwiteit en diversiteit, taalontwikkeling, akademiese prestasie en die bevordering van kultuur.

Bloemfontein is trots op Tjokkies Pre-primêr wat aangewys is as toppresteerder vir uitmuntende gr.R-praktyk.

OFM Nuus/Elsabé de Jager


@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.