Central SA
Veiligheidsmaatskappy doen ondersoek by moordhuis─── HEIDRÈ MALGAS 15:41 Tue, 04 Jul 2023
Recon Tactical se reaksiespan is ontbied toe Christo Theron, een van die moordslagoffers by die Byenes-dagsorgsentrum in Wilgehof, Bloemfontein, Vrydag nie by die werk opgedaag het nie.
Die operasionele hoof van Recon, Wouter de Wet, sê hulle het gaan ondersoek instel by die huis waar Theron gebly het. Die huis word deur Betsie Kruger besit en dien ook as 'n dagsorgsentrum.
“Met ons aankoms het ons bystand gelewer aan Ben Meintjies wat die oproep aan ons gemaak het om die perseel binne te gaan nadat ons die veiligheidshek se slot met ’n moersleutel oopgebreek het,” sê De Wet.
In die kombuis het hulle gesien die tafel was gedek met twee borde, maar die derde bord was stukkend op die vloer.
“Dit was duidelik dat daar ’n struweling was en ons het opgelet dat daar moontlike bloedkolle in die kombuis was.”
“Ons het die huis begin deursoek en ‘n 91-jarige vrou in een van die slaapkamers aangetref. Sy is ongedeerd en was onbewus van wat in die huis gebeur het,” sê hy.
In nog ’n slaapkamer het hulle Christo, sy vrou, Janine, en haar ma, Betsie, gevind.
Die toneel is aan die polisie oorhandig vir verdere ondersoek.
Familie en vriende het buite saamgedrom, en die plaaslike rugbyklub het die gesin se honde versorg.
Recon Tactical het hulle dankbaarheid betuig aan almal wat betrokke was en medelye betuig met die betrokke families. Hulle glo dat diegene wat verantwoordelik is, gearresteer sal word.
Enigeen met meer inligting kan die ondersoekbeampte David Ramasoalo by 082-468-1624 bel.

