Central SA
Cholera in nóg plekke in Vrystaat en Noord-Kaap gevind─── 16:23 Thu, 06 Jul 2023

AfriForum het die afgelope maand verskeie toetse vir cholera langs die Vaalrivier gedoen. Watermonsters is van dorpe in die Vrystaat en die Noord-Kaap langs die Vaalrivier geneem, asook ’n monster in die rivierstelsel.
Die volgende plekke is positief vir cholera getoets:
- By die Barrage-brug in die Vaalrivier.
- Parys in die die Vaalrivier.
- In Welkom by Thabong waar die Mostertkanaal begin.
- In Welkom by 'n voor wat in die Witpan inloop.
- By Barkly-Wes in die Vaalrivier.
- By Douglas in die Vaalrivier voordat dit met die Oranjerivier saamsmelt.
- By Warrenton in die Vaalrivier.
Sowat 40 laboratoriumtoetse is in die onmiddellike omgewing van die Vaalrivier gedoen. Aanwysertoetse is ook in verskeie ander dorpe se drinkwater gedoen om te bevestig of die water veilig is vir menslike gebruik. AfriForum het verskeie versoeke van gemeenskappe ontvang omdat hulle bekommerd is oor die gehalte van hul drinkwater.
Dit is kommerwekkend dat die resultate ook aandui dat E.coli teenwoordig is in die meerderheid van die watermonsters wat in die rivierstelsel geneem is.
“Die fokus van hierdie toetse was tweeledig. Eerstens wou ons bevestig of die drinkwater van die dorpe wat langs die Vaalrivier geleë is veilig is vir menslike gebruik en tweedens moes ons vasstel of daar cholera in die rivier is,” sê Lambert de Klerk, bestuurder van Omgewingsake by AfriForum.
“Die Departement van Water en Sanitasie sal aktief moet ingryp en AfriForum is bereid om te help. Wanneer daar gekyk word na die tussentydse verslae wat deur die departement uitgereik is, is dit duidelik dat die voorskrifte wat uitgereik is, nie gevolg word nie.
“Daar is egter een kwessie wat nie sin maak nie. Cholera is nie in 'n stadium in die rivier opgetel nie, maar verder stroomaf is die water wel positief vir cholera getoets,” sê De Klerk. AfriForum probeer nog bepaal wat die rede daarvoor is.
[BREAKING NEWS] Four new suspected cholera cases have been recorded in the Free State. This has brought the total number of suspected and confirmed deaths from the bacteria to 47. #DStv403 #QuestionThinkAct pic.twitter.com/JjFViT4RIM
— eNCA (@eNCA) July 5, 2023
Hoe versprei cholera?
Hoofsaaklik deur water wat besmet of besoedel is.
Simptome van cholera
Diarree, ontwatering, braking en lyfseer.
Voorkoming
Gebruik en drink veilige water. Kook die water vir minstens ’n minuut of behandel dit met ’n bleikmiddel. Was jou hande gereeld met seep en water of gebruik ’n handreiniger met ’n alkoholbasis van minstens 60%.