Central SA
Polisie kry beeldmateriaal ná Mia Kühn se dood─── 14:43 Fri, 07 Jul 2023

Die polisie het kringtelevisie-beeldmateriaal op die perseel van die Hoërskool Garsfontein bekom as deel van die ondersoek na die dood van Mia Kühn, sê die Gautengse polisiewoordvoerder, Dimakatso Nevhuhulwi.
’n Veiligheidswag by die Hoërskool Garsfontein het Dinsdag omstreeks 08:00 die gr. 10-leerling se lyk op die skool se rugbyveld ontdek.
Foto: Facebook
Die Gautengse LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, sê dit is onduidelik presies hoe Kühn toegang tot die perseel verkry het, omdat dit vakansie is en die skool gesluit is.
“Hulle weet nie hoe sy toegang verkry het nie, maar sy het, en ek dink regtig dis waar die polisie moet begin.”
Volgens Kühn se ma was Mia om middernag nog by die huis toe hulle gaan slaap het.
“Die lykskouing is gedoen, maar ons wag nog vir ’n skriftelike verslag van die dokter,” sê Nevhuhulwi.
Die polisie het wel vroër bevestig dat Kühn ’n onnatuurlike dood gesterf het. Geen verdere inligting kan egter in hierdie stadium bekend gemaak word nie.