On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

‘Woolies-plunderaar’ gevonnis ná Julie-onluste

───   12:44 Mon, 10 Jul 2023

‘Woolies-plunderaar’ gevonnis ná Julie-onluste | News Article
Videomateriaal van Mbuso Moloi, wat tydens die 2021 Julie-onluste in Durban ’n mandjie gesteelde goedere van Woolworths in sy Mercedes gelaai het, het opslae gemaak. Foto: Skermgreep

Die berugte “Woolies-plunderaar” het gehoor wat die prys is wat hy vir sy plundery tydens die Julie 2021-onluste sal moet betaal.

Moloi is Vrydag (7/7) in die Durbanse streekhof tot 18 maande huisarres gevonnis, asook 16 uur gemeenskapsdiens elke maand.

Landdros Melanie de Jager het boonop ’n vonnis van drie jaar gevangenisstraf opgelê wat geheel en al vir vyf jaar opgeskort is.

Hy is ook met R1 000 beboet omdat hy ’n voertuig bestuur het waarvan die nommerplaat nie met die lisensieskyf ooreenstem nie.


Die 32-jarige Moloi is die “Woolies-plunderaar” gedoop nadat 'n video van hom versprei is waar hy tydens die onluste in KwaZulu-Natal in Julie 2021 ’n Woolworths-winkel in Glenwood, Durban, met 'n mandjie gesteelde items verlaat het. In dié verdoemende beeldmateriaal word gesien hoe hy sy buit in 'n Mercedes-Benz C300 Coupé laai, wat sedertdien op 16 November 2022 deur die Batebeslagleggingseenheid (AFU) gekonfiskeer is.

Natasha Ramkisson-Kara, streekwoordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), het destyds gesê die NVG se strategie behels die konfiskering van bates wat gebruik is om misdaad te pleeg. Die motor was tydens die plundery op sowat R500 000 gewaardeer.

Hof hoor 'Woolies-plunderaar' het werk oorsee verloor

Ter versagting van sy vonnis het ’n maatskaplike werker van die Departement van Korrektiewe Dienste, wat Moloi geassesseer het, aan die hof gesê dat die "Woolies-plunderaar" ’n werk in die Verenigde Koninkryk verloor het as gevolg van die video.

“Ek het sy dienskontrak by 'n maatskappy in die Verenigde Koninkryk gesien. Hy het reeds aanlyn begin werk en daar was planne dat hy daarheen sou migreer, maar daardie geleentheid het verlore gegaan nadat sy foto’s op die internet versprei is,” het die maatskaplike werker bygevoeg.

Direkte gevangenisstraf 'te streng'

Sy het gesê direkte gevangenisstraf, wat deur die staat aangevra is, “te streng” sou wees.

Sy het gesê die verspreiding van beeldmateriaal van hom het bygedra tot sy straf, en dat die beskuldigde bekend geword het as die gesig van die plundery in Julie 2021.

Moloi het in Maart vanjaar skuldig gepleit op diefstal en oortreding van die Nasionale Padverkeersregulasies.

OFM Nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.