On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Gewese dokter van Springbok sterf in Namibië

───   08:27 Wed, 12 Jul 2023

Gewese dokter van Springbok sterf in Namibië | News Article
Wyle dr. Gert Cloete "Bons" Burger (71). Foto: Verskaf

’n Dokter wat voorheen op Springbok gepraktiseer het, dr. Gert Cloete Burger (71), is Vrydag oorlede. Hy was algemeen bekend as Bons.

Sy broer dr. Hentie Burger sê hy was Vrydag van sy praktyk in Karasburg, Namibië, op pad na sy plaas, Nabes, toe hulle in ’n ongeluk betrokke was. Bons en sy vrou, Wilna, was in hul voertuig met ’n sleepwa toe ’n band vermoedelik gebars het. Sy is vir haar beserings in die hospitaal opgeneem.

Dr. Bons Burger was ’n geliefde dokter in Springbok en Karasburg. Foto: Verskaf 

Die polisie in Namibië ondersoek nog die oorsaak van die ongeluk. Hentie het sy broer as ’n omgeemens beskryf.

Bons het ook pasiënte so ver soos Pofadder gaan besoek voordat hy in Karasburg gaan praktiseer het. Op Springbok word hy onthou as ’n goeie en liefdevolle persoon wat baie omgegee het vir sy pasiënte.

Dr. Bons Burger en sy vrou, Wilna, was Vrydag in 'n motorongeluk betrokke.

Dr. Bons Burger en sy vrou, Wilna, was Vrydag in 'n motorongeluk betrokke. Foto: Facebook 

Hy was ook geliefd in Karasburg. Leonie van der Ross sê dat haar huisdokter ’n goeie mens was.

’n Verpleegkundige wat anoniem wil bly, het in die 1980’s saam met hom by die Dr. Isak van Niekerk-hospitaal op Springbok gewerk en beskryf hom as ’n mense-mens.

"Hy was ook bekend as die mediese dokter met die mooiste, netjiesste en duidelikste, leesbare handskrif. Hy was plat op die aarde en sonder fieterjasies," sê sy.

Sy ander broer Chris was voor sy aftrede ’n tandarts op Springbok. Hentie en sy vrou, Delmarie, praktiseer nog albei op Springbok.

Bons se seun Christo Burger en sy vrou, Marisa Venter, praktiseer in Windhoek. Bons se begrafnisdiens word Saterdag by die NG Kerk op Karasburg gehou.

OFM Nuus/Isaac Cloete


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.