Central SA
Jongeling gee vleuels aan ’n Bach Toccata─── ELSABÉ DE JAGER 10:25 Thu, 13 Jul 2023
As sewejarige skuif hy vir die eerste keer voor die orrel in met ’n verrassende uitvoering wat hy lewer op gehoor.
Hy onthou hoe sy vingers die pad oopgevoel het na die lied “Hoe groot is U”.
Op elfjarige ouderdom bemeester hy Bach.
’n Kimberliet, en toppresteerder van die Northern Cape High School matriekklas in 2021, deel op 14 Julie sy buitengewone musiektalent met sy tuisdorp tydens ’n orrelkonsert by die NG Kerk Harmonie. Vir hierdie uitvoering het die 20-jarige Waldo Jones besluit op komposisies van Bach, Franck, Mendelsohn, Strauss en Sousa.
Dié Unisapryswenner se eerste onderwyser Matthew van Wyk, destyds verbonde aan die Musiekakademie in Kimberley, onthou dat hy verstom was toe Jones as 11-jarige tydens sy tweede les weggetrek het met Bach se Toccata in D mineur.

Jones hoop om binnekort op orrels van die ou meesters ook te speel.
Die Suid-Afrikaanse Kerkorrelistevereniging het Jones sedert die ouderdom van 15 jaarliks met ’n orrelbeurs vereer.
Sy liefde vir orrelmusiek het ook gelei tot meer belangstellings. Orrelstemmer en -bouer Werner Hurter het hom genooi om tydens ’n skoolvakansie deel te neem aan ’n orrelbouprojek. Vandaar het Jones ook opleiding ontvang in die stem van orrels.
“Ek het altyd gewonder waar die klank vandaan kom wanneer my ma, ook ’n orrelis, gespeel het. Die orrelpype in ons kerk was weggesteek. Ek dink dit was die geheimsinnigheid daarvan wat my meer wou laat uitvind,” sê Jones oor die gewaarwording van sy musiekliefde.
Jones is vanjaar ’n tweedejaar BMus student aan die Universiteit van Pretoria. Die jaar is vir hom opwindend. Afgesien van sy deelname as solis in die UP Simfonieorkes, berei hy ook onder die leiding van prof. Theo van Wyk voor vir ’n uitgebreide konsertrepertoire by die orrelfees in Pretoria.

Jones is ’n tweedejaar student aan die UP.
Wat die toekoms betref, sien Jones uit na ’n Amsterdamtoer in 2024. Daar sal hy die geleentheid kry om op die orrels van groot meesters soos Bach en Mozart te speel.
Op ’n vraag oor sy héél grootste begeerte, antwoord die jong orrelis dat hy graag eendag ’n wêreldtoer wil onderneem. In daardie tyd sal hy op al die geskiedkundige pyporrels speel. En wie weet, droom hy, dalk wag die orrel in die Westminster Abbey, die een waaroor hy die héél graagste sy vingers wil laat gly, ook daar op hom.
OFM Nuus/Elsabé de Jager
