Central SA
Juniorpreneur wys haar slag met naald en garing─── ELSABÉ DE JAGER 08:00 Fri, 14 Jul 2023
Die vrolikheid wat die groetslag oorneem, bevestig al klaar die vermoede dat hierdie jong geselser nog goeie paaie gaan stap.
Die Besigheidsbytjiespan van AfriForum het onlangs vanjaar se wenners van die Juniorpreneurskompetisie aangekondig.
Naaswenner van die Kategorie 3-afdeling, wat graad 8 en 9 leerders insluit, is ’n jong besigheidsvrou wat op ’n vroeë ouderdom reeds die nut van naald en garing ontdek het.
Desirèe Maree, tuisonderrigleerder van Orania en eienaar van Naald & Garing se liefde vir die hantering van klere het as’t ware aan die knie van haar ouma begin.
Die liefde en bewondering vir Ouma Martha slaan deur in haar vertelling hoe sy as driejarige toegekyk het terwyl Ouma klere herstel. Dis geen verrassing dat daardie klein dogtertjie toe reeds begin droom het oor ’n toekoms vol lap, garing en skepping nie.

Ywerige naaldwerksters word deur Desirèe geleer.
Op die ouderdom van nege pak Desirèe met groot sukses ’n kursus in die maak van handsakke aan. Toe sy 11 jaar oud is, voel sy saam met Ouma Martha gereed om nie net herstelwerk te doen nie, maar ook klere te begin maak.
Sy skroom nie om te vertel dat sy die volle ondersteuning van Ma Lana, Pa Cobus asook haar sussie en twee boeties hoog op prys stel nie.

Die jong entrepreneur saam met Pa Cobus.
Dié vrolike spraaksame meisie deel ook haar talent met ander. Vir ’n tyd lank het sy tyd ingeruim om aan jong kinders naaldwerkklasse aan te bied. Haar dae is te kort en die tyd te min, maar weereens borrel sy oor van entoesiasme toe sy vertel van die ontwerperskursus waarmee sy deesdae besig is.

Sy het ook onlangs met die ontwerp van klere begin.
Die vraag oor waarvoor sy haar wengeld gaan aanwend, is eintlik ’n onnodige een. Natuurlik om haar besigheid uit te brei en nóg beter te raak in dit waarmee sy dié om haar in verwondering laat oor haar lapwerk, lag sy.
OFM Nuus/Elsabé de Jager
