Central SA
Hoërskool Driehoek-tragedie het voor Michael Pretorius afgespeel─── 15:18 Thu, 20 Jul 2023

Hy sal sy motor, sy organe en alles wat hy besit, verkoop. Enigiets om sy seun deur hierdie verskriklike moeilike tyd te help.
So sê Nicky Pretorius van Vaalpark in Sasolburg oor sy seun Michael (21), wat met ernstige beserings in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein opgeneem is.
Michael en sy broer Nicky (22) was op 28 Junie in ’n motorongeluk betrokke. Hul motor het ’n wal op die R57 naby die Eco-Park-kamp by Sasolburg getref.
Nicky het die dag ná die ongeluk in die hospitaal in Sasolburg beswyk. Michael is later na die Pelonomi-hospitaal oorgeplaas. Hy het sy nek en rug gebreek, asook albei sy bene. Daar was ook probleme met die bloedtoevoer na sy linkerbeen.
Aanvanklik is gevrees sy voet sou geamputeer moes word. Sy longe het ook seergekry en hy was vir twee weke aan ’n ventilator gekoppel.
Michael en sy broer Nicky. Foto: Verskaf
Michael se bene word Vrydag (21/7) geopereer en daarna lê ’n bitter lang pad van herstel vir hom voor, sê Pretorius.
“Behalwe vir die fisieke herstel, is daar nog baie trauma om te verwerk.” Michael weet nog nie dat sy broer dood is nie.
“Hulle twee verskil presies ’n jaar en ’n week. Hulle het soos ’n tweeling grootgeword. Dit gaan baie swaar wees vir hom.”
Nicky is links en Michael regs. Foto: Verskaf
Pretorius sê die dokters het aanbeveel dat hy en Lena, sy ma, nog nie vir Michael vertel nie omdat hy nie ’n terugslag moet kry nie.
Michael het al vantevore ook ernstige trauma beleef. Hy was ’n leerling aan die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark toe ’n betonstruktuur van die loopvlak tussen die skool en klaskamers ineengestort het. Vier leerlinge is dood en baie is ernstig beseer. Michael het alles sien gebeur.
Pretorius sê dit is ’n verskriklike moeilike tyd en die gesin sukkel nog om tot verhaal te kom. Michael het nog twee broers, Stephan (20) en Ruan (17).
Familie en vriende het reeds begin geld insamel vir Michael se versorging ná die hospitalisasie en vir die rehabilitasie.
OFM Nuus/ Karen van der Berg