Central SA
Vrystaatse boer, lewensmaat skuldig weens hulp aan onwettige immigrante─── KEKELETSO MOSEBETSI 08:56 Mon, 24 Jul 2023
Bethlehem-streekhof het ’n Vrystaatse boer en haar lewensmaat skuldig bevind en gevonnis nadat hulle onwettige immigrante van Lesotho gehelp het om Suid-Afrika binne te kom.
Die Valke van Bethlehem het tydens ’n intensiewe ondersoek vasgestel ’n plaas naby Fouriesburg word gebruik as veilige deurgang vir gesteelde voertuie asook Lesotho-burgers wat nie ’n paspoort het het om die grens na Suid-Afrika oor te steek nie. Fikiswa Matoti, Vrystaatse Valke-woordvoerder, sê onwettige immigrante moet na bewering ’n fooi betaal aan die plaaseienaar, Makgauta Modiehi Mofokeng (40), en haar lewensmaat, Thabo Moji (31).
’n Lokval is op 20 Mei 2021 goedgekeur en uitgevoer. Die twee beskuldigdes – die plaaseienaar Mofokeng en die inwonende Moji – is toe in hegtenis geneem en daarvan aangekla dat hulle die onwettige deurgang toegelaat het. Die twee het sedertdien in die hof verskyn totdat hulle Donderdag (20/7) skuldig bevind en gevonnis is.
Mofokeng is ’n boete van R8000 of agt maande gevangenisstraf opgelê wat vir drie jaar opgeskort, is terwyl Moji gevonnis is tot 'n boete van R1000 of 30 dae gevangenisstraf, opgeskort vir ’n jaar.
OFM Nuus
