On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Man weens miljoene se onwettige sigarette vandag in hof in Noordwes

───   TSHEHLA KOTELI 09:04 Mon, 24 Jul 2023

Man weens miljoene se onwettige sigarette vandag in hof in Noordwes | News Article
Bokse sigarette is by die Skilpadhek-grenspos deurgelaat. Foto: Verskaf

’n Zimbabwiese burger (44) sal na verwagting Maandag (24/7) in die Lehurutshe-landdroshof in Noordwes verskyn op aanklag van die besit van onwettige sigarette.

Die polisiewoordvoerder in die provinsie, Amanda Funani, sê dat die man Vrydag (21/7) deur Noordwes se eenheid teen korrupsie aangekeer is, omdat hy na bewering probeer het om onwettige sigarette ter waarde van meer as R12 miljoen te smokkel. “Volgens inligting wat ontvang is, is die verdagte 'n vragmotorbestuurder van Botswana wat Suid-Afrika omstreeks 06:40 tydens beurtkrag by die Skilpadhek-grenspos ingekom het,” sê sy.

Bokse sigarette ter waarde van miljoene is in die vragmotor in Noordwes gevind.

Funani verduidelik vragmotors word nie toegelaat om tydens beurtkrag die land binne te kom of te verlaat nie, omdat die rekenaars van lyn af is. 'n Polisielid, wat die grens gepatrolleer het, het na bewering gesien hoe die vragmotor die grens verlaat en na Zeerust ry. Berigte dui daarop dat die lid sy bevelvoerder ingelig het en die vragmotor is agtervolg en gestop voordat dit Zeerust bereik het.

“Die bestuurder is beveel om terug te ry na die Skilpadhek-grenspos. SAID en doeaneamptenare is versoek om die vragmotor te inspekteer en bokse sigarette – ter waarde van R12 868 509 – wat die bestuurder versuim het om by die doeane te verklaar, is in die vragmotor ontdek,” sê sy. Die bestuurder is in hegtenis geneem en van die besit van onwettige sigarette aangekla. Die polisielid wat die vragmotor met die sigarette toegang tot Suid-Afrika gegee het, word ondersoek. Aanklagte van regsverydeling kan by die klagstaat gevoeg word wanneer die ondersoek afgehandel is.



Die provinsiale polisiekommissaris, Sello Kwena, het Noordwes se Teenkorrupsie-ondersoekeenheid gelukgewens met die puik werk en dat hulle verseker het dat die verdagte in hegtenis geneem is. Hy sê korrupte polisielede sal nie geduld word nie en geregtigheid sal geskied. Laastens het hy erkenning aan die polisielid gegee wat die voorval by sy bevelvoerder aangemeld het.

“Die saak is aan die Noordwes Valke oorhandig vir verdere ondersoek.” 

OFM Nuus


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.