Central SA
Noord-Kaapse ‘stortingsterreine ’n risiko vir inwoners’─── 13:48 Mon, 24 Jul 2023

Die Noord-Kaapse stortingsterreine in die Phokwane Plaaslike Munisipaliteit is in ’n haglike toestand en hou ’n gesondheids- en veiligheidsrisiko vir inwoners in, sê die VF Plus.
Die VF Plus het ’n oorsigbesoek aan die terreine gebring en is vergesel deur afgevaardigdes van die Francis Baard-distriksmunisipaliteit, waaronder Phokwane val, asook verteenwoordigers van die plaaslike regeringsvereniging (Salga).
Die stortingsterrein in Hartswater is nie omhein nie en ’n informele nedersetting is oorkant die terrein gevestig. Volgens munisipale regulasies is dit ontoelaatbaar. Die afvaardiging is van mening dat die terrein eerder gesluit moet word.
“By Pampierstad was daar mense wat deur die vullis gesnuffel het vir herwinbare materiaal. Dit was skokkend om selfs ’n skrapsgeklede kind van om en by twee jaar oud ook in die vullis te sien rondgrawe,” sê Estelle Davies, VF Plus-raadslid.
Die vullisterrein op Jan Kempdorp is omring deur ’n informele nedersetting. Daar word selfs ’n bok- en varkboerdery bedryf. Die plakkers is al verskeie kere verwyder, maar keer telkens weer terug.
“Ganspan se stortingsterrein word ook as ’n steengroef gebruik. Die materiaal word gebruik om slaggate op te vul.”
Ntobeko Dyani, beheerbeampte by die departement van landbou, bosbou, vissery en die omgewing, sê al hierdie stortingsterreine behoort gesluit te word.
“Aangesien die munisipaliteit nie eensklaps sonder stortingsterreine kan funksioneer nie, moet opknappingswerk dadelik begin. Dit is nie nodig om vir ’n omvattende plan te wag om die basiese bestuur te verbeter nie,” sê Davies.