Central SA
Michael Pretorius ‘huil en huil’ ná hy hoor sy broer is dood─── 16:31 Mon, 24 Jul 2023

Dit was baie swaar om vir sy seun te vertel sy broer is dood. “Ons het mekaar vasgehou en eintlik net gehuil. Ons huil nou nog.”
Só sê ’n emosionele Nicky Pretorius van Vaalpark in Sasolburg oor sy seun, Michael (21), wat met ernstige veelvoudige beserings in Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein lê. Michael en sy ouer broer Nicky (22) was op 28 Junie saam in ’n motorongeluk.
Nicky het die dag ná die ongeluk in die Sasolburg-hospitaal gesterf. Michael is later na Pelonomi oorgeplaas met ’n gebreekte nek en rug. Albei sy bene is ook gebreek, en hy het gesukkel met bloedtoevoer na sy linkerbeen.
Wyle Nicky Pretorius (22, links) en sy broer Michael (21) het soos ’n tweeling grootgeword.
Eers is gevrees sy voet sou geamputeer moes word, maar dit sal nie meer nodig wees nie. Voorts het sy longe seergekry en was hy 14 dae lank aan ’n ventilator gekoppel.
“Ons het hom oor die naweek vertel. Ons kon dit nie langer uitstel nie,” vertel sy pa, “want hy het heeltyd gevra. Hy was histeries. Hy het dit regtig nie vermoed nie.”
Hulle het hom verseker dat niemand hom kwalik neem vir die ongeluk nie; dat dit nie sy skuld was nie. Die twee broers het presies ’n jaar en ’n week verskil. Hulle het soos ’n tweeling grootgeword.
Michael saam met sy gesin. Van links is sy pa, Nicky, sy broers Stephan en Ruan en regs voor is sy ma, Lena Rossouw. Foto verskaf
Pretorius sê Michael huil baie daaroor. “Al wat ons nou kan doen, is om saam te huil.”
Intussen het Vrydag se operasie goed verloop. “Daar lê wel ’n baie lang pad na herstel voor. Hy gaan moontlik ’n verdere rugoperasie moet ondergaan.” Daar is ook nog nie gevoel in sy linkervoet nie.
‘Hy kan nie glo hoeveel mense hom ondersteun nie’
Pretorius sê dit gaan onder al die omstandighede darem redelik oukei met Michael. “Hy kan nie glo hoeveel mense hom ondersteun en ons familie bystaan nie. Hy sê baie dankie vir almal.” Hy eet wel nog nie baie nie, en praat ook baie min.
Pretorius sê hulle wil net aanhou om die gemeenskap te bedank vir almal se ondersteuning en veral bydraes met al die geldinsamelings.