Central SA
Graad R-leerder herstel ná val uit bewegende voertuig─── LUCKY NKUYANE 08:51 Tue, 25 Jul 2023
'n Vyfjarige graad R-leerder van Laerskool Moeti in Huhudi, naby Vryburg in Noordwes, sterk aan nadat die leerder uit die bewegende skoolvoertuig geval het en beserings opgedoen het.
Volgens die departementele woordvoerder, Mphata Molokwane, het die leerder uit 'n bewegende voertuig geval ná ’n moontlike stamp. Die voorval het glo Vrydagoggend (21/7) gebeur.
“Die busbestuurder (30) het die kinders omstreeks 6:00 by Uitbreiding 25 en Uitbreiding 28 in Vryburg gaan haal en met hulle na die Laerskool Moeti in Huhudi gery. Daar word beweer dat die graad R-leerder, ’n vyfjarige kind, saam met haar maatjie langs die busvenster gespeel het toe dit uitgeval het. Die leerder het ook uitgeval en is hospitaal toe geneem. 'n Saak van nalatigheid en roekelose bestuur word deur die polisie ondersoek. Die dossier gaan na die Staatsaanklaer geneem word om te besluit of iemand vervolg moet word.”
Die departement het egter die familie verseker dat die slagoffer bygestaan sal word en dat die verantwoordelike busbestuurder sal reël dat die leerder mediese behandeling kry en die mediese rekening sal betaal sodat die leerder ten volle kan herstel.
Leerder eers privaat vervoer
Molokowane sê die Departement van Gemeenskapsveiligheid en Verkeersbestuur het met die busbestuurder ooreengekom dat die leerder privaat skool toe en terug vervoer moet word totdat die leerder ten volle herstel het.
Intussen het die LUR vir Onderwys in Noordwes, Viola Motsumi, ook die leerder beterskap toegewens.
“Ek is namens die departement diep geraak deur hierdie ongelukkige voorval. As deel van die onderwysgemeenskap, is leerders ons menslike kapitaal en hoop vir die toekoms. Daarom is die beveiliging van hulle ons topprioriteit. Ek neem hierdie geleentheid om die leerder 'n spoedige en volkome herstel toe te wens en 'n boodskap van hoop en vertroosting aan die familie oor te dra.”
Leerder sal mediese sorg ontvang
Motsumi het gesê hulle sal voortdurend met die departement van gemeenskapsveiligheid en verkeersbestuur in verbinding tree om te verseker dat die leerder al die mediese sorg ontvang.
Sy sê hulle sal ook verseker dat sielkundige ondersteuning aan beide leerders wat die ongeluk aanskou het en aan die familie gelewer word.
“Die Departement van Onderwys in die Noordwes-provinsie wens die Moeti Primêre Skool Graad R-leerder 'n vinnige en volkome herstel toe,” sê Motsumi.
