Central SA
Oranje Meisies wen ATKV-Applous Koorkompetisie – VIDEO─── HEIDRÈ MALGAS 15:43 Fri, 28 Jul 2023
Die C&N Sekondêre Meisieskool Oranje in Bloemfontein se koor het Woensdagaand in Pretoria met die louere in die ATKV-Applous se eindrondte weggestap.
Stefan Buys, koorleier, sê as ‘n mens aan ’n kompetisie deelneem, gaan jy nie net om teen ander mee te ding nie, maar ook teen jouself. “Ek is ongelooflik trots op wat die koor hierdie jaar vermag het.”
Die uitdaging was om ’n goeie balans te skep tussen kompetisiestukke, werke wat vir die gehoor aanneemlik is en ook musiek wat vir die meisies iets beteken.
“Ek glo ons het geslaag om 'n mooi balans te handhaaf tussen hierdie drie.”
“Moet nooit die liefde vir musiek tweede stel nie.”
Hy sê om die kompetisie te wen moet ‘n mens hard werk, waarneem, maar steeds getrou bly aan die karakter van die koor en die belangrikste – moet nooit die liefde vir musiek tweede stel nie.
“Hulle lees eers die persentasie wat die koor kry en dan die koor se naam in stygende volgorde. Ek het met 'n dankbare hart en groot trots die prys ontvang toe ek ons punt hoor,” sê hy.
Die koor het elke Dinsdagaand geoefen, maar het ook hul naweke opgeoffer om die eindproduk te kry waarop hulle trots kon wees. Die meisies spog met ’n trofee en sertifikaat.
“Waarop ek die trotsste is, is die atmosfeer wat die meisies op die verhoog skep omdat hulle uit hul harte sing. Die gehoor gaan nie altyd onthou wie gewen het en wat hulle gesing het nie, maar hoe hulle gevoel het tydens die optrede. Daarom is ’n 'hoendervel' of ’n traan van ’n gehoorlid, die grootste kompliment wat die koor kan ontvang,” sê Buys.
ATKV-Applous word al 46 jaar aangebied en is die oudste skoolkoorkompetisie in die land.
Oranje het in die afdeling Hoërskool: Ope-afdeling ’n goue toekenning en 88,71% behaal.
Dis nou presies 10 jaar sedert die OMS-koor in 2013 ook ‘n prominente kompetisie gewen het.
OFM Nuus
