Central SA
Vrystaat groet ’n man ‘wat op soveel harte geskryf het’─── ELSABÉ DE JAGER 11:58 Sat, 29 Jul 2023

“Dit is ’n groot hartseer, ons is bitter jammer – ’n man wat op soveel harte geskryf het.” Só groet een van talle van sy oud-leerders hom op 'n oud-skolieregroep op Facebook.
Oud-adjunk-superintendent van onderwys en voormalige subredakteur by Volksblad se Sentrale Plaaslike Koerante, Stoffel Cilliers, is Vrydag (28/7) in die ouderdom van 84 in Bloemfontein oorlede.
As 79-jarige publiseer Cilliers sy eerste jeugboek, “Monsterspruit”. Hy beskryf dit as ’n storie van hoop en bemoediging en gemeenskappe wat saamstaan om verlies te verwerk.
Hy was 21 jaar lank onderwyser – drie jaar aan die Hoërskool President Steyn en toe 18 jaar aan die Hoërskool J.B.M. Hertzog in Bloemfontein, vandag bekend as Hoërskool Bloemfontein. Daarna was hy 13 jaar by die Vrystaatse Onderwysdepartement se hoofkantoor bedrywig met taalwerk. Op 60 het hy as adjunk-superintendent van onderwys afgetree. Hy werk toe twee jaar lank as subredakteur of taalversorger by Volksblad. As uitspruitsel van dié werk het hy sowat 180 boekresensies vir Volksblad en Beeld geskryf.
Cilliers was ook in 1970 stigterslid van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging en dien vir 35 jaar lank as voorsitter.
In 'n gesprek met Jens Friis, in die reeks “Wat het geword van ... ”, het Cilliers in 2015 vertel ná die dood van sy eerste vrou, Helen, het die Here vir hom weer ’n wonderlike lewensmaat in Heila gegee. Hy het sy uitstekende vordering binne agt maande ná ’n kankerdiagnose aan gebedsverhoring, goeie behandeling en die uitstekende versorging tuis toegeskryf.
Sy dogter, Lalien Cilliers, en een seun Jan-Chris is oorlede. Hy laat sy vrou Heila en ander seun, George Cilliers, sy skoondogter en kleinkinders agter.