On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Sesjarige se sterfpad bewys hóé wonderlik liefde en omgee is

───   CORNÉ GREYVENSTEIN 07:37 Sun, 30 Jul 2023

Sesjarige se sterfpad bewys hóé wonderlik liefde en omgee is | News Article
Liza Engelbrecht. Foto: Facebook

’n Liewe, brawe sesjarige van die Oos-Vrystaat se sterfpad het bewys hóé wonderlik mense kan wees as hulle liefhet en omgee.


Dié boodskap van die Laerskool Jordania in Bethlehem was een van honderde uit die plaaslike gemeenskap wat Liza en haar familie die afgelope paar jaar met liefde ondersteun het.

Werner Engelbrecht, Liza se pa, het vertel toe sy nege maande oud was, het hulle ’n granuloom op haar long gekry. Dit is suksesvol met steroïede behandel. Ná baie toetse is sy egter op ’n jaar oud met chroniese granulomatose gediagnoseer. Chroniese granulomatose is ’n skaars oorerflike siekte wat by 1 uit 200 000 mense voorkom.

“Haar witbloedselle kon nie sekere bakterieë en swamme beveg nie en alhoewel sy vir die laaste paar jaar gesond was, kon sy enige tyd 'n lewensgevaarlike infeksie opdoen,” het hy gesê.

Hy vertel die enigste opsie was dat Liza 'n beenmurgoorplanting ontvang. Die oorplanting het op 11 Januarie plaasgevind by Unitas-hospitaal in Centurion. Liza is daarna behandel vir die newe-effekte van die beenmurgoorplanting wat sy ontvang het. Engelbrecht sê dat haar lyfie die nuwe beenmurg moes leer aanvaar maar terwyl die twee teen mekaar baklei, het sy erge simptome soos naarheid, diaree, ’n veluitslag en maagpyn ervaar.

In dié tyd het talle skole vrolike fondsinsamelings gehou.


Ander het gestap, gehardloop of getrap ten bate van Liza. 'n Paar vroue het die gewilde Comrades-marathon aangepak en 'n paar manne het fiets getrap in die “go2berg”-fietsresies. 

Liza is een Sondag selfs verras deur 'n “unicorn” of eenhoring wat vir haar by die hospitaal kom kuier het.

LEES OOK: ‘Donna die eenhoring’ help Liza teen chroniese siekte veg - FOTO'S


Donna die eenhoring by die Engelbrecht-gesin. Foto: Facebook

En in dié moeilike tye dink haar ouers steeds aan ander in nood. “Mense moet hulself op die beenmurgregister laat plaas. Dit neem slegs n 'swab' toets,” vra haar pa.

’n Familielid skryf op Facebook: “Liefste nig, geen woorde kan jul Brechies se seer beter maak nie. Saam met jul het ons jul ups & downs gedeel van dag 1 af, dag 197 is 'n seer dag vir almal! Die moed, durf, deursettings vermoë, baklei deur pyn, glimlagte op goeie dae sal elkeen by bly. Jul as ouers se ongelooflike liefde, krag en vertroue in ons Hemelse Vader het selfs vir ons krag gegee wanneer ons daaglikse kragte min was. Lizatjie was in haar kort lewetjie 'n groot inspirasie vir jonk en oud, haar wakker ogies soms moeg het steeds geblink van liefde, haar warmte vir mense was in goeie en moeilike dae steeds daar, haar hele kleine lyfie het net sterkte, krag en positiwiteit uitgestraal al het sy hoe gevoel!

“Na 'n kuiertjie by haar waar mens met onsekerheid in haar kamer ingestap het, het jy later as ' n sterker volwassene uitgestap agv haar krag wat sy gehad het.

“Onbewustelik het sy so baie mense bekend en onbekend aangeraak, ons kan net stil staan in verwondering id krag en rol wat ons Vader in haar jong lewe gespeel het!

“Nig, Werner, Lyntjies ons dra jul in ons harte en gebede saam. Jul seer is ons elkeen se seer. Mag Hy jul die krag gee id dae en jare wat voorlê.

“Dankie vir die fantastiese ouers wat jul vir jul 2 girls was en is! Al was Lizatjie hoe siek was sy altyd liefdevol en bedagsaam en dis danksy haar liefdevolle ouers.

“Mag Hy jul dra wanneer julle voete te swaer is, jul harte stukkend is en jul lewens vul met goeie memory's en met harts mense elke oomblik van elke dag!”

Op 27 Junie het Janet en Werner hul twee dogtertjies, Elyna en Liza, se sesde verjaardag gevier. 




En brawe klein Elyna sal die hegte gemeenskap altyd herinner aan die reënboog ná dié storm, en die liefde en omgee waartoe die mensdom wel in staat is.

OFM Nuus


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.