Central SA
Valke waarsku Vrystaatse ouers teen mensehandel─── LUCKY NKUYANE 09:02 Sun, 30 Jul 2023
Die Vrystaatse hoof van die Valke, Mokgadi Bokaba, het ouers gewaarsku om waaksaam te wees en hulle aangemoedig om hul kinders se internetgebruik te monitor.
Die wêreld herdenk vandag, Sondag 30 Julie, Wêrelddag teen Mensehandel.
Daar was al verskeie voorvalle of berigte van mensehandel in die provinsie.
Bokaba en lede van die Valke se ondersoekeenhede vir ernstige georganiseerde misdaad van Bloemfontein en Welkom sal inwoners vandag inlig oor die verskynsel van mensehandel en die rol wat hulle kan speel om sulke voorvalle aan te meld.
Human trafficking affects the lives of millions of people around the world.
— United Nations (@UN) July 29, 2023
On Sunday’s #EndHumanTrafficking Day, @UNODC calls on governments to strengthen prevention measures, increase support for survivors, end impunity & more. https://t.co/UGv5zbCkPd pic.twitter.com/CcpBdLPZCV
Valke-woordvoerder, Zweli Mohobeledi, sê mensehandel kom voor in gemeenskappe waar vals werksgeleenthede soms aan slagoffers voorgehou word, waarna hulle in 'n wêreld van slawerny, dwelmafhanklikheid, dwelmhandel, kinderarbeid of sekswerk vasgevang word.
"Handelaars gebruik soms sosiale media om slagoffers, insluitend kinders, uit te lok. Hulle maak beloftes van lekkernye en bied 'n lewe van geld."
Mensehandel is 'n vorm van uitbuiting waar die slagoffer deur misleiding of geweld gewerf word. Hulle word verskuif van een plek na ’n ander waar die uitbuiting sal plaasvind.
Mohobeledi sê inwoners moet die eerste linie van verdediging wees wanneer hulle vreemde gedrag waarneem, byvoorbeeld selfs teenoor ’n huiswerker wat soms as ’n sekswerker misbruik word.
OFM Nuus
