Central SA
Noordwes-skole maak steeds van puttoilette gebruik─── TSHEHLA KOTELI 10:48 Tue, 01 Aug 2023
Die DA het sy kommer uitgespreek oor puttoilette wat steeds by skole in Noordwes gebruik word.
Terwyl die party ’n einde aan puttoilette in skole wil maak, het hulle drie verskillende skole in die provinsie besoek. Baxolile ‘Bax’ Nodada van die DA sê die eerste skool wat hulle besoek het, was die Mahobotle Primary School, wat in 1971 gebou is en 876 leerders het. “Die leerders, van gr. R tot gr. 7, is ten volle aangewese op puttoilette.”

Een van die puttoilette wat by die Mahobotle Primary School in Noordwes gebruik word. Foto: Verskaf
Daar word beweer dat die skool nog nooit deur die provinsiale departement van basiese onderwys ingesluit is wanneer dit kom by die begroting en die puttoilet-uitwissingsprogramme nie. Dit blyk ook dat die skool nie op die departement se lys van skole met puttoilette ingesluit is nie. “Die skoolbeheerliggaam en skoolbestuurspan het probeer om die sanitasie-situasie aan te pak deur in 2010 puttoilette te bou, wat die leerders en personeel tot vandag toe moet gebruik.”
Nodada verduidelik by die Lepono Primary School is daar spoeltoilette wat geïnstalleer is, maar 302 leerders en 23 personeellede word gedwing om die 12 puttoilette te gebruik. Die bewering is dat die Moretele Plaaslike Munisipaliteit nie basiese dienste kon lewer nie, wat tot sporadiese watervoorsiening gelei het.

Die puttoilette wat by die Lepono Primary School in Noordwes gebruik word. Foto: Verskaf
Die DA besef 'n boorgat kan die oplossing bied vir die skool se uitdagings. “Ideaal-gesproke moet ’n boorgat gesink word om ’n betroubare watertoevoer vir die skool te verseker. Sodra dit afgehandel is, moet dié dodelike putte toegegooi word.”
'n Klaskamer by die skool is omskep in 'n tydelike kombuis om die leerders van etes te voorsien, aangesien die skool nie 'n kombuis het nie.
Die Rantebeng Primary School se 320 leerders word gedwing om van onhigiëniese puttoilette gebruik te maak, met drie toilette vir gr. R-leerders en ses vir leerders in gr. 1 tot gr. 7. Terwyl die 16 personeellede by die skool twee spoeltoilette gebruik. Die spoeltoilette wat in 2018 gebou is, kan nie gebruik word nie omdat dit nie reg geïnstalleer is nie.

Die toilette word deur personeellede en leerders by die Rantebeng Primary School in Noordwes gebruik. Foto: Verskaf
“Dit is skokkend dat daar die afgelope vyf jaar geen ingryping van die departement was nie. Leerders van ’n skool met ’n betroubare watertoevoer en spoeltoilette moet nie gedwing word om gevaarlike puttoilette te gebruik nie,” sê Nodada.
